Gedagte vir die dag | Dinsdag 29 September 2020

Matteus 10:42.  “Hoor nou wat ek vir julle sê, iemand wat vir een van my volgelinge, al is hy ook hoe gering, ’n beker koue water gee om te drink omdat hy My volgeling is, so iemand sal sekerlik sy beloning kry.”

Ek het aan hierdie verhaal gedink, teen die agtergrond van ons gemeente se kosprojek.  Vandag word kos deur vrywilligers verpak en dan aan heelwat behoeftige en minderbevoorregte gesinne uitgedeel.

Eendag was daar ’n baie geldgierige en selfsugtige visserman, vertel iemand my onlangs. Die visserman het toe eendag ’n pragtige goue vis in die rivier gevang. Hy het dadelik na sy klein lendelam huisie vertrek om sy vis voor te berei. Hy was stoksiel alleen sonder ’n vrou, en hy moes maar self die mas opkom. Toe hy tuis kom, en sy vangs op die tafel neersit, het die vis ewe skielik begin praat! Die vis sê vir hom: “Spaar asseblief my lewe dan sal ek seker maak dat jou eerste drie wense vervul word!” Al voorwaarde is, dat jou buurman twee keer meer as jy gaan ontvang. Die visserman het nou nie van hierdie voorwaarde gehou nie, want hy en sy buurman het nie om dieselfde vuur gesit nie, maar hy het tog ingestem.

Toe hy sy eerste wens uitspreek, was dit dat hy ‘n groot en gerieflike huis wil hê, en dit was onmiddelik so, maar toe hy by die venster uitkyk, sien hy twee pragtige huise op sy buurman se erf staan. Hy het weer na sy eie ruim huis gekyk, en sy tweede wens uitgespreek. Hy wens hy het ‘n mooi vrou gehad wat saam met hom in hierdie huis kon woon, en sowaar, die volgende oomblik het sy langs hom gestaan. Maar toe hy so skuins by sy venster uitkyk, het hy pragtige vrouens in elk van sy buurman se huise gesien staan. Dit raak toe net vir hom een te veel. Nadat hy ’n oomblik nagedink het, het hy sy derde wens uitgespreek deur te wens: “Ek wens my een oog was blind.”

Ja, dit is wat selfsugtigheid aan ’n mens kan doen. Dit vermink jou lewe, maar dikwels ook dié van jou medemens. Daarom waarsku die Bybel ons ook teen die najaag van dinge, wat net in ons eie belang is. Jeremia 45: 5: “En jy soek roem vir jouself? Moet dit nie soek nie. Paulus vryf die waarheid nog dieper in wanneer hy sê: Moet niks uit selfsug doen nie, maar in nederigheid die ander hoër ag as ander.”

Dis soms bitter moeilik, maar dit is die voorbeeld wat Jesus aan ons stel. Hy het sy eie lewe opgeoffer sodat ek en jy die ewige lewe kan hê. Soms is ons geneig om net die mense wat meer as ons het, die dubbelverdiepinghuis en die nuwe motorkar raak te sien, maar die duisende wat minder het as ons, sien ons nie raak nie.

Mag ons harte gebreek en aangespreek word deur hulle wat minder as ons het. Mag ons die vermoë behou om ons seëninge raak te sien, alles wat die Here vir ons gee, en om dan met oop hande te leef.  Daar is ‘n mooi spreekwoord wat sê: “Die paradysvoël kom sit op die hand van die een wat dit nie vashou nie.”

Gebed

Here, dankie vir U groot genade en seën in elkeen van ons se lewe. Gee dat ons, ons seëninge sal tel soos die ou lied sê, en dat ons, ons seëninge kan deel met die wat minder het as ons. Amen.