Psalm 131 ‘n Pelgrimslied. Van Dawid. “Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. 2Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. 3Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.”
Baie mense, veral toegewyde Christene, besef die belang en waarde van gebed aan die begin van hulle dag. Tog weet ons nie altyd wát of hóé om te bid nie. Ek self het die waarde van centering prayer ontdek. Willem Nicol noem dit “die gebed van die hart”.
Hierdie vorm van gebed vra nie baie tyd van ons nie, ongeveer 20 minute elke oggend voordat ons met ons dagtake begin. Dit vereis ook nie baie woorde nie. Wel net een woord, soos die Naam van God of Jesus. Of ʼn frase soos “Kom, Heilige Gees!” of “Here, my God” waarmee ons, ons verlange na God uitdruk. Dit is al.
Die belangrikste is dat ons ons gemoed tot kalmte sal bring en ʼn rukkie in stilte by God sal gaan rus, soos ʼn kindjie by sy ma. En wanneer ons gedagtes begin ronddwaal, soos gewoonlik gebeur, is die raad dat ons rustig sal terugkeer na die één woord, of frase waarmee ons voor God stil geword het. Ons herhaal dit saggies om só naby aan God te bly.
Natuurlik sluit hierdie vorm van gebed nie uit dat ons, soos Jesus ons geleer het, allerlei dinge van God kan vra nie. Ons behoort ook vir ander in te tree en die wêreld se nood voor God te bring. Maar dit is dikwels eers wanneer ons rustig geword het by God en toegelaat het dat God ons met liefde vashou, dat ons sal weet hoe en waarvoor ons behoort te bid. Beproef gerus hierdie gebed van die hart.
GEBED
Here dra my deur die diepe water, waar ek self nie meer kan staan
In U arms is ek veilig, wanneer U my dra as ek nie verder kan gaan.
Ek mag naby aan U bly, soos ‘n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly, dit is die plek waar ek hoort.
Amen