Teks: Psalm 27:1 Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?
GEDAGTE
Vrees is die siekte van ons tyd. Om te vrees is deel van ons lewe. Elkeen van ons het al iets gevrees. Ons is liggaamlik bedraad om situasies wat ons fisies bedreig, te vrees. Hierdie vrees is gesond, maar wanneer vrees ons lewens begin oorneem en ons amper nie meer kan funksioneer nie, raak dit ’n probleem. Vrees het baie keer te doen met wat ons in ons verbeelding bedink en vees kom by ons kuier wanneer ons buite beheer voel.
Die opdrag wat Jesus die heel meeste gee, is – moenie bang wees nie. In die Evangelies gee Jesus ongeveer 125 opdragte. 21 hiervan is – moenie bang wees nie. “Hou moed. Moenie ontsteld wees nie.” Verreweg die meeste van Jesus se opdragte, het daarmee te doen om nie toe te laat dat vrees ons oorweldig nie
Ek het dit nie getel nie, maar blykbaar staan die woorde: moenie vrees/bang wees nie, 365 keer in die Bybel: een keer vir elke dag van die jaar!
Dalk staan jy vandag voor ‘n moeilike keuse of beslissing? Of dalk is jy middde in ‘n krisis? Dalk moet jy ‘n ernstige operasie ondergaan? Maak nie saak wat die omstandighede is nie, die opgestane Heer staan voor jou met Sy woorde: “Moenie vrees nie.” Ons hoef nie meer te vrees nie, omdat Hy oorwin het!
Die Kerkvader Martin Luther het eenkeer gesê: Om in ‘n teologiese debat te tree oor wie of wat God is, gaan jou niks baat in ’n oomblik van vrees nie. Wat jou wel gaan baat, is as jy getuienis kan gee aan jouself van wie God is. Dit gaan wel ’n verskil aan jou vrees maak”
GEBED
Hemelse God en Vader, ek plaas vandag my vrese in u vaderhand. Ek is bang en benoud. Gee my asseblief weer u vrede. Help my asseblief daarmee en lei my daardeur.
Amen