Hebreërs 4:15-16. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Vandag se teksgedeelte sluit nou aan by die dagstukkie van gister en praat met ons oor die wyse waarop God ons ontmoet. In die Ou Testament was godsdiens streng gereguleer. Slegs die Hoëpriester was een keer ‘n jaar tydens die Groot Versoeningsdag in die allerheiligste van die tempel toegelaat, om daar in God se teenwoordigheid te kom. Daar is geglo dat God se heilige teenwoordigheid op die deksel van die ark tussen twee gerubs (engele) gerus het, wat gelowiges God se genadetroon genoem het. Wanneer die skrywer van Hebreërs kies om van hierdie beelde gebruik te maak deel hy met ons ‘n radikale gedagte. Die Heilige God het begrip vir ons swakhede en nooi ons om met vrymoedigheid na sy genadetroon te gaan om daar genade en barmhartigheid te vind wat genesing bring. God se heiligheid bring nie ‘n afstand tussen ons en God nie – dit oorbrug juis die afstand. Wat beteken dit dat die Here jou op hierdie manier uitnooi om in sy teenwoordigheid, genade en barmhartigheid te ontvang?
Gebed
O, my Here en my God, die lewensreis is te vermoeiend vir my, tensy U my voed met die brood uit die hemel en die wyn van die lewe; tensy U, U eie oorwinning oor die sonde, haat, pyn en dood met my deel. Laat u bloed deur my are vloei, u krag my krag wees, u liefde my liefde wees en die wil van die Vader ook my wil wees. Laat my met U een wees, in hart en siel en verstand.