Matteus 5:3. 3“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. ’n Mens sou vandag se vers ook kon vertaal. . . gelukkig is hulle wat elke dag uit God se hand leef. Gelukkig is diegene wat van Sy goedheid afhanklik is.
Geen mens streef daarna om afhanklik van ander te wees nie. Die grootste deel van ons lewens is ’n strewe na onafhanklikheid. Ons streef tydens elke fase van ons lewe na selfsandigheid. Dit is hoe ouers hulle kinders grootmaak. Baie mense sal sê dat dit die doel van alle opvoeding is om kinders selfstandigheid te leer sodat hulle onafhanklik kan funksioneer. In hierdie verband is opmerkings soos jy moet op jou eie bene kan staan, iets wat baie kinders al gehoor het. By addolesente is die strewe na selfstandigheid een van die oorheersende dryfvere van hulle lewens.
Natuurlik is daar iets goeds daaraan om selfstandig te probeer wees. Maar dit is natuurlik ’n illusie dat ons in alle opsigte so selfstandig kan wees dat ons eintlik begin dink ons het niemand meer nodig nie. Dat jy volkome op jou eie sal kan klaarkom sonder die hulp van ander en veral natuurlik sonder die hulp van die Here.
Daarom is dit eintlik ’n vorm van genade wanneer daar dinge met ons gebeur wat net vir ons opnuut laat besef hoe nodig ons die Here in ons lewens het. Ek verwys na daardie moeilike situasies waar ons benoud is, gespanne raak en waar ons opnuut tot die besef kom dat ons die Here nodig het. Almal het in werklikheid die Here nodig. Maar laat ons nie net van God afhanklik wees in krisistye nie. Kom ons leef elke dag in afhanklikheid van die Here.
GEBED
Here, ek het U nodig. Ek kan nie sonder U lewe nie AMEN