Gedagte vir die dag | Dinsdag 26 Julie 2022

 

Kolossense 1:21-22

22″Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. 22Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel.”

Die afgelope paar dae het ons ’n wye beeld van die reddingswerk van God gekry. Christus is die middelpunt van die verhaal. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Alles bly in Hom in stand. God het in sy volle wese in hom kom woon sodat alles met God versoen. Ons is deel van hierdie verhaal. Wat waar is vir die skepping, is ook vir ons waar.

Wat beteken dit vir jou om saam met die res van die skepping met God versoen te wees?

Wat opvallend is, is dat daar nie ’n opdrag in hierdie teksvers is nie, maar ’n stelling dat ons heilig, sonder smet en onberispelik voor God staan. Dit is afgehandel, klaar gedoen. Wat beteken dit vir jou?

Ek nooi jou uit om vandag al hoe meer bewus te word van wat Christus reeds vir ons aan die kruis gedoen het. Mag ons gaan leef as mense, wat saam met die res van die skepping, heilig en onberispelik voor God staan.

Gebed

Here, hoe wonderlik is dit om te weet dat u genade ook vir my is. Die versoening wat U vir die ganse skepping bring deur die kruis, is ook vir my. Mag ek die liefde wat u aan my bewys het, ook aan ander bewys. Help my om so te leef dat my lewe ook getuig dat ek deur Christus versoen is met God.

Amen.