Filippense 4:4: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Dis ’n pragtige positiewe gedeelte vir ‘n nuwe jaar wat voorlê. Ons het die afgelope week gepraat oor voornemens, met ander woorde oor hoe ons belangrike besluite vir die toekoms moet neem. Dis egter ook goed om positief terug te kyk na 2020, na daardie veelbesproke en uitdagende jaar.
Ek sluit dan aan by ’n dagstukkie van Stefan Joubert oor 2020,en die rol van ’n geseënde mens wat op ’n geseënde wyse die jaar kon afsluit om ’n nuwe jaar in te gaan. Ek haal aan:
Net dalk is jy een van ’n handjie vol mense wat hier in 2020 die smal pad van vrede bewandel het.
- Terwyl almal vertel het hoe moeg en opgebruik hulle is, het jy elke dag ’n rusplek gevind by die Here se voete.
- Terwyl almal bekommerd was oor die rasse spanning in ons land, het jy ’n brug herstel tussen bakleiendes, en selfs ’n paar nuwes gebou.
- Terwyl almal gekla het oor korrupsie wat hand uitgeruk het, het jy met integriteit gewerk en gedoen wat reg is.
- Terwyl almal vertel het oor hoe onseker hulle is oor die toekoms, het jy elke dag aangegryp as die dag van die Here, en dit volgemaak met hoop en nuwe lewe.
- Terwyl almal hulle lewenskwaliteit gemeet het in terme van alles wat hulle verloor het in 2020, het jy joune gemeet met al die nuwe insig, kennis en wysheid wat die Here deur sy gees in jou lewe gedeponeer het.
Gebed
Here, dankie dat U my deur die ou jaar die nuwe jaar ingelei het. Dankie dat ek die voorreg gehad het om U te kan verteenwoordig in ons huidige wêreld. Amen.