Gedagte vir die dag | Dinsdag 25 Julie 2023

Die volgende paar dae gaan ons by ‘n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.

Lees: Exodus 2:1-10

Teks: Exodus 15:20-21 20. Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ‘n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing: “Sing tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die see geslinger.”

 GEDAGTE

Iemand het eenkeer gesê: “Die moeilikeste instrument om te bespeel is tweede viool.”  En dis die plek wat God aan Mirjam toegeken het. Hoewel Mijam die oudste kind in die gesin was, het Mirjam grootgeword in die skadu van haar twee jonger broers Aaron en Moses. Vroeg in haar lewe moes sy Moses, toe hy nog ’n klein babatjie was,  en waar sy ma hom in ‘n biesiemandjie op die Nylrivier gelos het, op pas. Die babaseuntjie wat Mirjam opgepas het sou grootword en die eerste vyf boeke van die Bybel skryf. Hy sou 40 jaar lank die bemiddelaar tussen God en sy volk wees.

Na  Mirjam se rol as oppasser van die baba Moses hoor ons niks verder van haar lewe nie, tot na die uittog uit Egipte. Terwyl Moses en die mans die bevrydingslied sing, begelei Mirjam die vroue met tamboeryn en danse om God te eer. Wat wel duidelik uitstaan in hierdie paar verse is dat Mirjam as ’n leier onder die vroue beskou word.

Mirjam het egter bitterheid in haar hart rond gedra. Sy gee uiting aan haar bitterheid deur haar broer, Moses, openlik aan te val en hom in die verleentheid te bring. Sy het haar broer  gekritiseer en aangeval in plaas daarvan om hom as leier te ondersteun. Die gevolg van haar sonde is dat sy melaats raak. Moses het toe die Here aangeroep en vir Mirjam se genesing gebid. Mirjam het gesond geraak.

Mirjam het geworstel met Moses se gesag. Ek weet ons het vandag ook baie uitdagings met ons leierskap in ons land. Tog bly dit ons plig om vir hulle te bid al stem ons nie saam met hoe hulle ons land bestuur nie.

GEBED

Hemelse God en Vader. Ek wil vandag veral kom intree vir die leiers van ons land. Seen hulle asb met wysheid. Lei hulle om ons land goed te bestuur.