Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Mei 2023

 

Habakuk 1: 2-3. Hoe lank moet ek nog om hulp roep voordat u hoor, Here, moet ek by U kla oor geweld voordat U red? Waarom laat U my die onreg sien wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is?

Waaroor sou jy vandag wou kla? Daar is elke dag soveel dinge wat ons ontstel en wat ons altyd iewers op ‘n plek kan aanmeld. Iewers moet daar darem tog iemand verantwoordelikheid neem om dit reg te maak. En dan die frustrasie dat die persoon aan wie jy die klagte rig nie veel kan uitrig nie en die insident weer herhaal. Waaroor wil jy vandag kla? Wat doen dit aan jou menswees? Hoe raak dit jou verhoudings met ander mense? Ons dink dikwels dat die uitkoms lê daarin dat ons moet ophou kla – dit is nie die Christelike ding om te doen nie. Die teendeel is waar! Wat ons wel moet probeer verander is om ons klagtes aan God te rig. Dit is wat gelowiges in Bybelboeke soos Job, Habakuk, Klaagliedere en sommige Psalms gedoen het. Wanneer ons dit doen deurgrond die Heilige Gees ons gedagtes, emosies en help God ons om te onderskei wat ons vandag moet sê en doen.

Gebed

Here, my hart is elke dag vol klagtes oor dinge waaroor ek dikwels nie beheer het nie. Kla het ‘n manier geword om beheer te probeer neem, maar dit is besig om my en ander om my af te breek. Daarom bring ek dit vandag na U toe. Dankie dat daar elke dag in sulke oomblikke tyd is om my eerlike menswees na U toe te bring – dikwels in harde woorde. Dankie dat U genade vir ons rou emosies groot genoeg is en dat dit ons in oomblikke van vrees, angs en frustrasie tot bedaring bring.

Amen.