Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Februarie 2021

Filippense 3:10: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.”

Verlede Woensdag was Aswoensdag. Dit is die dag in ons kerklike tradisie wat amptelik die Lydenstyd inlei.

Gedurende die afgelope week het ons by sekere aspekte van Jesus se lydensweg stil gestaan. Ons het oor broosheid, pyn, die kruis, lyding, maar ook oor die triomf en verheerliking van God deur Jesus se lyding, gesels. Ons kon sekere aspekte van Jesus gedurende Sy lydenstyd uitlig, waarmee ons kan identifiseer en dit in ons eie lewe van toepassing maak: sy gehoorsaamheid, nederigheid, broosheid en hoe Hy na sy Vader geroep het in sy donkerste uur.

In ons teks vandag, beklemtoon Paulus ’n verdere, en uitdagende aspek. Ons moet kan assosieer met sy lyding en ons in verondenheid daarmee kan vereenselwig.  Op ’n manier moet ons iets daarvan aan ons eie lywe voel. Paulus sê: “Ek wens om te kan deel hê in sy lyding en aan Hom gelyk te word in die dood.” Paulus het die fisiese lyding ter wille van Christus werklik self aan sy lyf gevoel. Dink maar aan al die vervolging en ontberinge wat Hy moes deurgaan. Ons hoef natuurlik nie noodwendig op dieselfde manier te ly nie. Ons hoef ook nie noodwendig die 40 dae van lydenstyd te vas en niks te eet nie. (soos wat baie in ons kerklike tradisie gebeur het nie.)

Ons identifiseer daarmee deur onsself te ontledig, of dalk ons eie ego te kruisig.  Daarom is lydenstyd vir ons ’n goeie tyd van selfrefleksie en van agterlaat. ’n Tyd van prysgee, veral die prysgawe van die self, eie belang en die eie ek.

Mag ons hierdie Lydenstyd,met die baie lyding wat ons rondom ons is, deur die vergrootglas van die kruis weer opnuut na onsself kyk.

Gebed

Jesus, ek moet ook my kruis opneem, al my dae; U volg na die Vaderhuis met al my bekommernisse, vrese en vrae. Help my Heer, versterk My wil, rig my swakke tree, help my hier my taak vervul. Rig my op U weë.

Amen.