Gedagte vir die dag | Dinsdag 23 Augustus 2022

 

Matteus 5:43. Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat. Maar ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir die wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.

Hierdie teks bly maar oor alle tye heen vir ons een van die moeilikste dinge om te doen. Hoe kry ’n mens dit reg om die diep gewortelde gevoelens en emosies teenoor ander mense te verander. Om nie eens te praat daarvan om boonop nog liefde aan ‘n mens se vyande te betoon nie. Daarvoor is ons eie wil te swak. Dit is juis miskien hier waar die woord bekering opnuut vir ons betekenis kry. Om radikaal weg te keer van hoe ons vandag oor mense voel, of dink en dan deur God se oë na dieselfde mense te kyk en toe te laat dat God ons gedagtes en gevoelens verander. Neem tyd met die volgende vrae: Wie is vandag die mense na wie jy op hierdie manier moet kyk. Watter gesigte kom by jou op? Wat is die Here se wil wat Hy  vandag hierdeur vir jou kom wys? Nou die moeilikste vraag – is jy bereid om toe te laat dat dit jou gevoelens en emosies verander? Hierdie verandering is wel moeilik, maar een van die kragtigste veranderings wat die Here in jou lewe kan meebring.

Gebed

Here, dit is nie vir my moontlik om vanuit my eie krag en perspektief die verandering te bring wat U vandag van my vra nie. Daarom is dit vir my wat U al soveel jare my Vader noem nodig om my te bekeer. Weg van my sterk opinies en gevoelens wat daarmee saamloop na U toe. Help my daardeur om vandag skielik anders te kyk na mense wat ek my vyande noem. Gee my vandag insig in die mense wie se name op my vyandlys is. Gee my die wysheid hoe om teenoor hulle op te tree. Help my om so nuwe gestalte te gee aan die ou ge-eikte woord wat ons liefde noem.

AMEN