Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 November 2022

Ons eindig hierdie reeks van Rus vandag met die teksvers van Psalm 62:2 “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding”.

Ek en jy het egter nodig om te leer hoe om in Christus te rus.  Hy het vir ons ‘n oop uitnodiging gegee: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.  Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en My las is lig.” (Matt 11:28-30).

Hier praat Jesus oor die rus van jou innerlike menswees, daardie deel waarmee jy met Hom in ’n verhouding staan. Hierdie verhouding doen weg met alle prestasie en werke wat om jou draai en verskuif die fokus na wat en hoe Hy dinge deur en vir jou doen.

  • Wat het God se Woord met hierdie reeks van dagstukke vir jou oor rus gewys en geleer?
  • Hoe wil God hê moet die woord, rus jou lewe verander?
  • Waar in die wêreld gaan jy dit wat jy ontdek rus het, prakties uitleef?

Graveer hierdie op jou hart: Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding.  Net by God vind ek rus, want van Hom kom my redding.

Gebed

Here Jesus, U het my hart verlig met die waarheid en wyshede van rus. Gee my ook u Heilige Gees en krag dat ek kan weet en doen wat U behaag en verlang.

Amen.