Gedagte vir die dag | Dinsdag 22 Junie 2021

Jeremia 20:11: “Maar die Here is met my soos ‘n geweldige held; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle staan diep beskaamd, omdat hulle nie geslaag het nie, ‘n ewige smaad wat nie vergeet sal word nie.

Dit kan maklik gebeur dat ons dink, “dit sal nooit regkom nie.” Dis onmoontlik, daar is niks wat ek aan hierdie saak kan doen nie. Ek is vas geloop, sonder uitkomkans. Ek staan voor ’n muur, en ek kan nie hierdeur nie.  Wanneer ons onsself in so ’n gedagtegang betrap, kan ons gerus onthou hoe Jesus daaroor gedink het.

Markus beklemtoon dit onder meer in ‘n paar plekke, ek noem enkeles:

Markus 9:23: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”

Markus 10:27: “Vir mense is dit onmoontlik maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik.”

Markus 14:36: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

Matteus 17:20: As julle maar geloof het so groot soos ‘n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”

Ons weet dat die Here beeldspraak hier gebruik en verstaan dat God kan verander.  Hoe kan die Here vir my verander? Hier is dit nie ’n geval van ek gaan staan sonder petrol en nou verwag ek dat daar uit ’n magiese bron petrol voorsien moet word nie.

Robert Schuller het in een van sy werke gesê: Jesus is een van die grootste denkers wat ooit geleef het. Maar glo ons dit nog? Glo ons dat dinge kan verander?

In Jesus se omstandighede was dit nogal nie so eenvoudig en maklik nie. Hy was arm, ongeleerd, sonder ’n vaste werk. Soveel so dat eintlik maar baie min  evangelies oor Hom geskryf is. Hy was deel van ’n minderheidsgroep in ’n land wat voorheen aan sy volk behoort het. Onder sy kennisse en vriende was daar nie een baie belangrike persoon wat vir hom toutjies getrek het, of deure oopgemaak het nie. Die volgelinge was maar ’n vreemde klompie soos vissermanne wat nie een geleerd was nie en manne wat nie vreeslik sterk was wanneer hulle moes nie,

’n Tydjie gelede het ons in die tuin van Getseme stilgestaan.  Daar het die manne gelê en slaap toe hulle moes bid en Hom ondersteun. Een het hom verraai, ’n ander een het hom verloën en toe het hy geglo en verkondig dat alles moontlik is, vir die wat glo. Dis ’n boodskap wat sy volgelinge nie vergeet het nie, dit het hul hele lewensuitkyk verander. Want hulle het self gesien dat alles wel moontlik is, hy het uit die graf op gestaan, lafaards wat onbevrees sy boodskap verkondig het en as’t ware sy koningkryk verower. Want wat het gebeur? Hulle het verander. Hulle het die saak anders gesien en insig gekry in die baie mooi spreekwoord: “As die skip nie hawe toe kom nie, swem uit na die skip toe.” Ons wil dikwels hê die skip moet na ons toe kom, en wil hê ons gebede moet so beantwoord word.

Maar ons kan verander word deur self na die skip toe te swem. Glo ons dat die Here se woorde waar is vir elkeen wat glo? Dis nie net ’n sekulêre slagspreuk wat niks met die Evangelie te doen het nie, dis juis die Evangelie self. Ons kan gered word, maar die Here kan ook vir ons die genade gee om te verander, om die moeilikste omstandighede te verstaan, te oorkom en te oorwin.

Gebed

Here, gee vir ons die genade om nuut en anders en te doen. Amen