Gedagte vir die dag | Dinsdag 21 Junie 2022

1 Timoteus 6:11.  Maar jy moet van hierdie dinge wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid.

Waarvan vra Paulus dat ons in hierdie teks moet wegvlug? Dit het in hierdie gedeelte gegaan oor gelowiges wat in allerhande probleme vasgevang geraak het. Dit het hulle negatief gemaak en aanleiding gegee tot die ontstaan van nog ’n warboel van probleme. Dit is presies wat uitdagings vandag ook aan ons doen. Dit het die vermoë om ons vas te gryp en te laat vashaak by kwessies wat net nog probleme skep. Voel jy dalk vandag, of in sekere tye van jou lewe so? Voel jy dalk dat jy nie die emosionele energie het om al die goed wat die lewe na jou kant toe gooi uit te sorteer nie en dat die volume daarvan vir jou oorweldigend geword het.

Vandag nooi die Here ons uit om in ’n oomblik van stilte dit alles aan Hom oor te gee. Om bewustelik weg te vlug van ’n gevoel wat ons versmoor en eenvoudig net te fokus op God wat op verskillende maniere ons help om rigting in die lewe te vind. In plaas dat ek soos die gebruik vanoggend vir jou ’n gebed voorlees wil ek vra dat jy self tyd neem om nou te bid en eenvoudig alles waarvan jy wil vlug, voor die Here te lê. Mag jy in hierdie paar oomblikke onder die indruk kom hoe die Here se genade jou nuwe energie gee om dit wat vir jou in hierdie dag voorlê te kan hanteer.