Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 Junie 2023

 

Matteus 9:12-13. 12Maar Jesus het dit gehoor en gesê: “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 13Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”

GEDAGTE

Die tipe mense wat Jesus as sy vriende aanvaar het, het beslis nie die goedkeuring van die godsdiensleiers van sy tyd geniet nie. Jesus meng met sondaars, prostitute en Samaritane. Mense wat nie sonder sonde was nie het Jesus se liefde vir hulle aangevoel en by Hom tuis gevoel.

Alhoewel tollenaars, wat die Romeinse belasting ingevorder het, hulle eie mense verkul het, kies Jesus ’n tollenaar as een van Sy dissipels. En Levi laat sy geldsak net so staan wanneer Jesus hom nooi om hom te volg. Saggeus, ook ’n tollenaar, word ook ‘n volgeling van Jesus en sy lewe verander heeltemal. Hy is dadelik bereid om al die geld wat hy gesteel het met rente terug te betaal.

Yancey skryf so mooi in sy boek, The Jesus I never knew: “Jesus moved the emphasis from God’s holiness to God’s mercy. Instead of the message no undesirables allowed. He proclaimed: In God’s kingdom there are no undesirables.”

Indien jy dalk ook voel jy is nie goed genoeg vir God se koninkryk nie, weet dat Jesus jou aanvaar het net soos jy is. Dit is juis vir sondaars soos ons wat Hy na die aarde toe gekom het.

GEBED

Hemelse God en Vader. Dankie dat Jesus vir al my sonde aan die kruis gesterf het. Dankie dat U my aanvaar en liefhet. Amen