Spreuke 17:22: ” ‘n Vrolike mens is ‘n gesonde mens, ‘n neerslagtige mens raak uitgeput.”
Die afgelope week het ons met mekaar gedeel oor die groot voordeel van vreugde en blydskap in ons lewens. Ons het dit onderstreep dat sulke vreugde en blydskap die resultaat is van ’n verhouding wat ons met ons Hemelse Vader het. Ons het ook met mekaar gedeel dat vreugde, ten spyte van omstandighede, ongeag die donker tye wat ek mag beleef, tog moontlik is.
Hiervoor moet ons daaglikse keuses maak. Ja, baie keer word ons in die moeilikste omstandighede ingegooi, en reageer ons as mense met hartseer, en met kommer en met neerslagtigheid. Dit is menslik. Ons moet egter elke dag probeer om doelbewus te kies tussen ’n gees van neerslagtigheid, of ’n gees van vreugde en blydskap.
Dit is ongelukkig so dat baie mense elke dag opstaan met ’n groot donker wolk oor hulle. Ek praat nie van ’n akute depressie wat soos ’n siekte is nie, maar ek praat van ’n lewensingesteldheid en uitkyk op die lewe. As ons die kuns kan aanleer om die mooi te soek, as’t ware ons geloofslewe en lewensuitsig te “reset”, dan kan dit vir ons ’n lewe van vreugde bring. Die Spreuke-digter stel die uitkoms van hierdie twee lewens ingesteldhede teenoor die lewe duidelik in ons teksvers: Hy sê: ” ‘n vrolike mens, is ’n gesonde mens.” Dit spreek vanself. Dit raak jou lewenskwaliteit. Dit raak jou hoop vir die toekoms, en bo alles het dit ook ’n baie positiewe uitwerking op jou fisiese gesondheid. Daarteenoor, sê die Spreukedigter: “ ’n neerslagtige mens raak uitgeput.” Weereens spreek dit vanself. Ek kan myself in ’n baie negatiewe lewe in bekommer, as ek altyd net die negatiewe raaksien. Dit raak later soos ’n spiraal wat my afsuig na baie donker plekke.
Na hierdie week se oordenkings, kom ons neem die besluit, dat ons elke dag met nuwe oë, nuwe vreugde en blydskap na alles rondom ons sal kyk. Dis ’n lewensingesteldheid waaroor ek self herhaaldelik kan besluit, maar wat veral aangehelp word deur die Heilige Gees, wat in my gees, ’n gees van vreugde bring. Ek wil hierdie week se oordenkings afsluit met ’n ou gesang uit die Psalm en Gesangeboek van 1944: “Die môre gesang, verwerk deur GG Cilliers. Dis dan ook ons gebed vir hierdie dag.
“Vervul my hart met dankbaarheid, waar ek nou tot U nader; verkwik deur U weldadigheid, kom ek tot U, my Vader. Hoe juig my hart sy danklied uit vir U goedgunstighede! My eerste lied is dankgeluid, U lof my eerste skrede”!
Amen.