Ek lees graag vandag vir ons ’n Advent gedig van Frieda van den Heever voor. Mag hierdie woorde vir jou ’n troos wees in hierdie heilige dae:
Die Woord het vlees geword
God uit God in ’n mens uitgestort
Vannag kyk ’n ster na die aarde
Sing stof, jy’t ook nou waarde
Die Woord het vlees geword.
God giet God uit in ’n kind wat huil
God as verskuil in ’n suigeling wat weet hy gaan bloed sweet
In ’n baba, klein en bang wat gaan hang tussen hemel en aarde
Die Woord het vlees geword.
Die Woord het vlees geword
Lig uit lig in die donker neergestort
Tussen diere en doeke
Sonder kiekies en koeke
G’n dokters en boeke
En so skryf die Woord geskiedenis oor
Kom, weeskinders
Kom, wyse manne
Kom, woeste winde
Wat waai in die Noorde waar krismis wit is
En Krismis swart is
En Krismis bruin in
Op Kaapse vlaktes
Kom Vader Krismis, se my, mis jy ook die Christus
Jou slee is tjok en blok, maar ys smelt dwarsoor die wêreld
Die hele wêreld is op hol
Ons is keelvol
En kopvol
En gatvol
Die herberg is vol
Maar die stal in my siel is dolleeg
Ek is vol strooi en sweet en skape en oorskiet sterre
Wie sou wou kers opsteek by,
Leplek vind in my
In my wou wees
Maar die Woord word bloed
En die Woord word vlees