Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 November 2021

Filippense 3:13.  Broers, ek verbeeld my nie dat ek alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en ek strek my uit na wat voor is.

’n Goeie CV en verwysing van werksondervinding is vir die meeste van ons baie belangrik. Om vordering in die lewe te maak, is van groot belang sodat jy vir ander kan wys wat jy al in die verlede vermag het.  Dit gee vir jou ’n voordeel bo ander. Paulus begin Filippense 3 met sy CV – en dit skitter van prestasies. Hy was van geboorte reg onderrig en het die beste leerskole bygewoon, maar sê hy dan: “wat vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde”. Daarom maak hy hom los van wat agter, of verby is en strek hy hom uit na wat voor hom lê.

Dit is nie wat ons vermag het wat tel, of hoe hoog ons die leer van die bedryf waarin ons is, geklim het nie, maar liewer die mens wat die Here ‘n mens deur die hele proses gemaak het. Paulus deel met ons hoe die Here sy karakter kom vorm het. Mag hierdie gedeelte jou vandag help om nuwe betekenis te vind in wat jy doen en waar jy jouself bevind. Herinner jouself dat dit wat saakmaak nie soseer net jou vaardigheid is nie, maar jou menswees.  Mag dit vandag jou gesindheid bepaal waar jy nuwe dinge aanpak.

Gebed

Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag só omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld as ’n plek van lyding, korrupsie, verganklikheid te help transformeer tot ’n gebied waar u lig, vreugde en liefde die deurslag gee. Bied my  gehoorsaam aan u Gees wat gevul is met nuwe moontlikhede.

AMEN.