1 Korintiërs 7:17. Hoe ook al, laat elkeen leef in ooreenstemming met wat die Here aan Hom toegedeel het, soos God elkeen geroep het. En so reël ek ook in al die gemeentes.
Net soos by ons vandag was daar in die eerste gemeentes te midde van hulle geloof in dieselfde God ’n groot diversiteit in mense se godsdienstige opinies en praktyke. Ook dan in hoe mense verskillend oor sekere kwessies en die hantering van lewe dink. Soos Paulus van gemeente tot gemeente gereis het, het die neiging keer op keer onder sy aandag gekom saam met die besef dat dit konflik in die gemeentes gebring het. In vanoggend se teks praat Paulus met ons om sulke situasies te respekteer. Wat van belang is, is ons geloof in dieselfde Here. Die manière waarvolgens ons die Here aanbid en waarvolgens ons leef verskil van mekaar, want ons roepings verskil. En hierin lê ’n groot geheimenis wat ons nie aldag verstaan nie. Moet dus nie toelaat dat ooglopende verskille in jou eie gemeente ’n plek kry bo jou geloof in God, wat wel veel meer ruimte bied nie. Dink veral hoe jy in die lig van die gedeelte teenoor spesfieke mense in jou gemeenskap behoort op te tree.
Gebed
Here, ons aanbid U as die Here van kennis en wysheid wat so dikwels ons eie kennis en wysheid oorskry. Ons besef vandag weer hoe U in die lig van elke mens se omstandighede en persoonlikheid ’n pad met ons elkeen stap waarin mense geroep word. Help ons om nie by onbenullighede, wat ons self hoog op prys stel, vas te haak nie. Help ons om so met mekaar saam te leef dat ons mekaar nie voortdurend kritiseer en beskuldig nie, maar eerder die vreugde kan ervaar van die uniekheid van elke persoon in ons midde.
Amen.