Die reaksie van die opstanding van die Here Jesus Christus was deur alle eeue baie dramaties en insiggewend. Dink onder andere aan die vroue by die graf en hul reaksie toe hulle by die leë graf aankom. Hul verbasing, hul vrees, maar ook hulle opgewondenheid waarmee hulle die ander dissipels gaan inlig het.
Dink byvoorbeeld aan die reaksie van die Emmaüsgangers nadat die Here Jesus vir ’n lang tyd saam met hulle was. Dink byvoorbeeld aan die dissipels van Jesus wat aan die een kant verbouereerd en bang toegesluit gesit het, totdat Jesus by hulle aangekom het en Jesus vir hulle gesê het: “Vrede vir julle.” Maar veral vandag, dink aan die reaksie van Tomas, die twyfelaar. Die ongelowige Tomas. In Johannes 20:24 lees ons: “Tomas, wat ook Didimus genoem is en een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in Sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy Sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Ek het net vandag ’n baie interessante artikel van dr. Fritz Gaum in die Die Burger gelees. Die opskrif van die artikel is: “Is die opstanding van Jesus feit of fiksie?” Dan praat hy daarin oor interpretasies wat oor die jare heen oor die opstanding gevorm is en wat die opstanding van Jesus as onmoontlik en onwetenskaplik beskryf. Vir moderne mense van 2000 jaar na hierdie gebeure, het dit moeiliker begin raak om dit te glo. Daarom wou Tomas die twyfelaar al in die pro-moderne tyd al niks van Jesus se opstanding uit die dood weet nie, alvorens hy nie self sy vingers in sy wonde ingedruk het nie. Die artikel lei verder dat die bodem van ons Christelike geloof uitval wanneer ons Jesus se opstanding uit die dood ontken – ons sit dan met ‘n hand vol wind.
Die aanvaarding van die opstanding van die Here Jesus is nie ’n wetenskaplike aangeleentheid nie. Dit word onder leiding van die Heilige Gees deur die geloof aanvaar en so word dit die kern van die Christelike geloof, dit is waaraan ons vashou. Dit is wat ons nuwe lewe in Christus definieer en moontlik maak.
Wat is jou reaksie, op die opstanding van die Here Jesus? Weet jy bloot daarvan as ’n historiese feit, of het dit werklik ’n geloofsrealiteit vir jou geword? Dat jy dit met albei geloofshande aangryp as die hoogtepunt in jou geloofslewe in Jesus Christus omdat dit die deur oopgemaak het, vir my en jou, om op aarde as nuutgemaakte mense te leef, maar ook vir ’n ewige bestaan.
Here, vergewe my ook as ek so baie wil twyfel soos ’n ongelowige Tomas. Gee vir my die geloofsmoed om nie net u opstandingswerk te aanvaar nie, maar om dit ook elke dag te leef. Amen.