Gedagte vir die dag | Dinsdag 18 Januarie 2022

 

Romeine 12:9 Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.

Te midde van ons liefde vir mense is daar dikwels ’n klomp dinge wat ons onderliggend in verhoudings grief, of frustreer en waarmee ons sukkel om saam te leef. Ons goeie maniere kondisioneer ons om dit diep binne in onsself weg te bêre – daar waar niemand dit kan sien nie.  Alhoewel ons dus aan mense liefde bewys, is dit nie altyd ’n refleksie van wat werklik binne ons aan die gang is nie. Uiteindelik bou die druk van hierdie gevoelens en emosies binne ons op. Dit glip wel deur in ons gesigsuitdrukkings, houding en opmerkings. In vandag se teks vra Paulus dat ons liefde vir mense “ongeveins” moet wees. Die woord beteken eerlik, opreg en eenvoudig. Dit herinner ’n mens aan die bekende gedeelte in 1 Kor. 13  “die liefde hoop alles, glo alles en verdra alles”. Is daar iets van iemand wat jou irriteer, of frustreer en wat jy diep agter goeie maniere wegsteek en in jou spanning bring?

Die Here het ons lief net soos ons is. Wat sou dit beteken dat ons vandag ander mense ook so sal liefhê? Beleef vandag dat die Here jou van pretensie en die spanning wat daarmee saamloop kom bevry sodat jy mense ongeveins lief kan hê.

Gebed

Here, U ken my diepste gedagtes en gevoelens oor mense. Ek probeer my goed gedra en probeer dit alles agter goeie maniere wegsteek, maar die druk en spanning wat daaroor in my woed is soos ’n storm. Kom maak my vandag asseblief vry daarvan sodat ek soos U mense ongeveins kan liefhê. Gee my daarom vandag die moed om eerlik met myself te wees en wys my hoe om verby die dinge in mense te kyk wat nie tel nie en die mooi in elke mens raak te sien.

AMEN