Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 November 2021

 

Psalm 127

As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs.

As die Here die stad nie beskerm nie, waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

2Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak.

Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.

Ek dink psalm 127 is ’n uitnodiging dat ons in ons werk, vreugde kan vind.  Dit is nie te sê dat ons werk altyd lekker, maklik of bevredigend is nie, maar dit sê wel dat as ons werk, is God teenwoordig en in dit kan ons vreugde vind.  Die Psalm herinner my ook dat my waarde as ’n mens nie gelykstaan aan my produktiwiteit nie, maar my waarde staan gelyk aan God wat vir my rus bring.

Die Psalm laat ’n vraag in ons midde – ’n vraag waaroor ons ons hele lewe lank kan reflekteer.  Wat is dit waaraan ek bou, en hoekom bou ek dit? Mag ons die antwoord op die vraag vind in die storie van God sodat dit waarde en betekenis aan ons werk en ons lewens gee. In alles wat ons doen – in ons werk en in ons rus – mag ons die weg vind na die Een wie se juk sag is en wie se las lig is.