Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Mei 2023

Johannes 18:36. 36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

GEDAGTE

Voor Jesus se geboorte het die volk Israel reeds eeue lank uitgesien na die koms van die beloofde Messias. Die Jode het geglo dat Jesus die een sou wees wat hulle van die Romeinse oorheersing sal verlos en Israel weer tot sy glorie van ouds sal ophef. Met Jesus se intog in Jerusalem bereik die Jode se verwagting ’n hogtepunt. Almal juig Jesus toe en wil Hom met alle geweld Koning maak. Hulle verstaan nie dat die koninkryk waarvan Jesus praat nie ’n aardse koninkryk is nie, maar ’n geestelike koninkryk. Hierdie koninkryk is nie van plan om die Romeinse regering oor te neem nie. Die Jode is so verontwaardig wanneer hulle hierdie feit uiteindelik snap. Die gevolg daarvan is dat hulle Jesus verwerp en Hom oorgee om gekruisig te word.

Tydens Jesus se verhoor vra Pilatus vir Hom of hy wel ’n koning is. Jesus antwoord dat Hy wel ’n Koning is. Maar Hy is ’n anderste koning. Hy is ’n nederige en liefdevolle Koning. Daarom vra Jesus ook van sy volgeling van hierdie koninkryk om hulleself te verloën en hulle kruis te dra.  Is jy bereid om so ’n Koning te volg?

GEBED

Hemelse God en Vader dankie dat ek deel kan wees van U koninkryk. Help my asseblief om die voorbeeld van ons Koning Jesus te volg.

AMEN