Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Maart 2021

Psalm 23:4: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.”

Ek wil teen die agtergrond van ons lydingstyd iets met u deel oor droefheid, en die feit dat niemand van ons daarvan gevrywaar word nie. Op een of ander tydstip van ons lewe, ervaar elkeen van ons droefheid, pyn, lyding, of seer. Dis ’n ervaring wat ons nie kan begin verstaan voordat ons self die paadjie geloop het nie.

Daar is egter sekere waarhede waarvan ons kan kennis neem, om ons te help in ons donkerste oomblikke van smart, alleenheid of eensaamheid. Dit sal ons ook help om begrip, vertroosting en bemoediging aan mense te gee wat saam met ons leef. Jesus het dit bewys toe Maria en Marta hulle broer Lazarus verloor het, en hy na hulle toe gegaan het. Hy het op so manier in hul droefheid gedeel, dat dit hulle werklik gehelp en getroos het.

As iemand na aan jou deur die dood weggeneem word, laat dit gebroke emosionele bande en ’n pynlike  gevoel van verlies, droefheid en eensaamheid agter. Nie net die dood veroorsaak dit nie, maar die skielike verbreking van ’n liefdesverhouding, die verbrokkeling van ’n gesin, vriendskap, of enige ander vorm van verlies. Droefheid kan ook veroorsaak word deur die verlies van jou gesondheid, finansiële probleme, die verlies van jou werk, of skuldgevoelens oor ’n misstap wat begaan is. Die emosionele ervaring wat volg op ’n verlies noem ons droefheid en op een of ander tyd word dié emosie deur elkeen van ons beleef. Om droefheid te hanteer is nie so maklik nie.

Jay Adam beweer droefheid is ’n lewensskuddende pyn oor verlies, dit skeur jou lewe uitmekaar en skud jou tot in jou fondamente. Droefheid is niks minder as ’n aanslag op jou lewe self nie. Dit ruk jou tot stilstand. Die rouproses volg in reaksie op verlies. Dit sluit ’n emosionele reaksie in, sowel as aanpassings in jou denke tot daardie verlies. Jou gevoelens en gedrag word so wesenlik aangetas dat dit soms as ’n siektetoestand beskryf kan word. Die vraag is dan, of my en jou geloof ons in staat stel om die troos van Psalm 23:4 aan te gryp en dit ons eie te maak, “selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my, in U hande is ek veilig.”

Gebed: Here gee ons die genade om deur ons seer en ons pyn ons droefheid en swaar te verwerk. Dankie vir U teenwoordigheid juis in dit.

Amen.