Gedagte vir die dag | Dinsdag 16 Februarie 2021

Paulus skryf  in Filippense 3:10-11: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Ek kan nie glo die helfte van Februarie is al verby nie! Ons gaan juis vanoggend meer oor tyd gesels.

Gejaagde grootmense en kommerlose kleuters verloor soms tred met die tyd.  Soos klein Pieter wie se pa die afgelope skoolvakansie eers ’n week na die gesin se aankoms by die see, by hulle aangesluit het.  ’n Dag voor sy pa se koms het die mannetjie aanhoudend gevra: “Wanneer kom pappa?” Sy ma het hom elke keer verseker: “Hy kom môre.”  So het dit aangegaan en hy was elke keer verseker dat hy sy pa die volgende dag sou sien.  Toe sy pa die volgende oggend reeds teen dagbreuk daar opdaag,  terwyl klein Pieter nog geslaap het, kon hy toe hy later wakker word en sy pa sien, nie sy oë glo nie!  Sy vraag was toe aan sy pa: “Is vandag dan al môre?”

Is vandag regtig al môre?  Mense vra so baie: “Is ons al in Februarie? Wat het van 2020 geword?  Nou is ons al in 2021? Is vandag dan al môre?”   Vir Paulus was môre beslis voor die deur, soos hy in ons teksvers sê: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.”

Eintlik sê hy dat hy in Christus, reeds self gesterf en opgestaan het, en nou saam met Hom lewe.  Soos klein Pieter, kan ons baie keer nie glo dat môre alreeds by ons is nie.  Daarom jaag ons deur die lewe, asof die beste dinge nog voor ons lê en ver buite ons bereik is.  So word geluk soos ’n pragtige voël wat ons agtervolg en probeer vang, maar instussen sit dit reeds op ons skouer.  Ons  moet net vir ’n oomblik dwars kyk en stil staan.

So mis ons die lewensvreugde, en ander noodsaaklike gehalte dinge en kosbaarhede wat elke dag tot ons beskikking is.  As ons maar net die gevleuelde woorde van Horatius onthou: “Carpe diem, quam minimum credula postero.”  Dit beteken: “Gryp vandag, en plaas so min as moontlik vertroue in môre.”

Daarom moet ons niks uitstel vir môre as dit nie vandag gedoen kan word nie.  Ons het in dié tyd gesien en beleef hoe maklik dinge van ons weggeneem kan word.  Hoe maklik mense siek word en van ons weggeneem word.

Dit laat my dink aan die woorde wat op ’n ou klok in Chester in Engeland geskryf staan: “When as a child I laughed and wept, time crept.  When as a youth I dreamed and talked, time walked.  When I became a full grown man, time ran.  And later as I older grew, time flew.  Soon I shall find while travelling on, time gone.  Will Christ have saved my soul by then?”

Gebed:

Here die tyd hardloop onder ons uit.  Dankie dat U ons red, nie net om in die hemel te kom nie, maar om te leef, en om ten volle te leef.  Dankie dat vandag al môre is, gee dat ons die dag sal aangryp, die dag wat U vir ons gegee het.  Dankie vir die voorreg om te lewe, vir die voorreg om mens te kan wees.  Vir die voorreg om al is dit net in een mens se lewe,  ’n verskil te kan maak, of om hom/haar net te kan aanraak.   Dankie dat U ons, in Jesus Christus aangeraak het.

Amen.