Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Maart 2022

Lukas 23:46 “Vader, in U hande gee ek my Gees oor.”

Hierdie gebed van Jesus word tradisioneel beskou as die sewende en laaste kruiswoord van Jesus voordat Hy sterf. Die afgelope week kon ons stilstaan by die sewe woorde wat vir ons die gordyn ’n bietjie oopgetrek het op die ware hart van Jesus Christus.  Baie kon geleer word uit die evangelies oor wat Jesus gesê het en oor hoe Hy mense geleer het. Op die kruis kry dit ’n nuwe dieptepunt. Ons sien iets baie spesiaal van die hart van Jesus! Dit terwyl Hy in die ergste vorm van pyn verkeer. Ons sien ’n hart wat omgee en wat  pleit vir mense wat self in nood is. Dit is gesprekke, gebede, pleitbedes en kreuninge van pyn en nood.

Gedurende hierdie Lydenstyd wil ons juis hierby stilstaan, en daarmee identifiseer om weer die waarde van die kruisiging van Jesus Christus vir onsself te onderstreep. Plaasvervangend in ons plek het Hy daar gehang. Hy het die volledige prys betaal, en soos ons kon sien uitgeroep: “Dit is volbring!”

Hierdie sewende kruiswoord is die finale gebed of uitroep van Jesus. Sterwend sê hy nogeens vir Sy Vader: “In U hande gee ek my gees oor.”  Hy besef dat Sy aardse werk goed en volledig voltooi is, en Hy gee homself  nou terug in die hande van sy Vader.

Dit is ’n gebed van kinderlike vertroue. Om dit alles in sy Vader se hande oor te laat, ongeag die feit  dat Hy nakend aan ’n kruis hang en gespoeg en bespot word. Maar Jesus gee nie in, of op nie, Hy gee oor.  Hy gee oor aan Sy vader.

Ons besef dat Jesus se Vader, ook ons Vader is, en dat ons ook ons hele lewe aan Hom kan oorgee, en Hom daarmee vertrou.

Ons sluit hierdie paar oordenkinge oor Jesus se kruisiging af deur ’n vers uit die pragtige aandgesang aan te haal: “Ek weet aan wie ek my toevertrou het, al wissel dit ook dag en nag, ek ken die rots op wie ek gebou het. Van wie ek al my heil verwag. En aan die einde van my lewe, vir al u seën en goedheid Heer, u dank en eer.”

Here, in u hande gee ek ook my lewe oor. Dankie dat ek so baie van u kon leer, in dit wat u op daardie dag op Golgota, uitgeroep het. Amen.