Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Junie 2021

Markus 1:35. “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”

Dit was algemeen bekend onder die dissipels dat Jesus soggens vroeg gaan bid het. Omdat Jesus dikwels deur skares omring was, het Hy geweet dat Hy ’n stil plek moet vind om Sy Vader se stem te hoor.  Elke keer as Jesus ’n belangrike besluit moes neem, het Hy gebid. Toe dit tyd geword het om Sy dissipels te kies het Hy daaroor gebid. Dit was gebed wat Jesus se program bepaal het. Gebed het die wonderwerke vooraf gegaan. Gebed het Jesus op kritieke oomblikke bemoedig. Gebed het Hom in staat gestel om na die kruis te gaan. En gebed het Hom op die kruispad deurgedra.

Hoeveel te meer het ons nie ook gebed nodig nie?  Hoe lyk jou gebedslewe? Hoeveel keer per dag bid jy? Wel, as jy een of twee keer bid, is dit al wonderlik, maar jou gebede moet eintlik in mekaar begin vloei dat dit ’n lewenstyl word, dat jy niks doen sonder dat jy nie bid nie. Selfs wanneer jy nie daarna voel nie! Gebed is ‘n leefstyl. Dit is so natuurlik soos asemhaal. Jy kan bid vir enigiets op enige plek enige tyd van die dag.

GEBED

Here leer my bid.

Amen