Gedagte vir die dag | Dinsdag 15 Desember 2020

Lukas 1:32-33.” Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Ons Jesus is die Koning van die wêreld. Maar Hy moes Sy hemelse koninklike heerlikheid aflê en ’n slaaf word t.w.v. van sondaars. Hoewel Jesus ’n koning is, is Hy in ’n nederige stal gebore. Hy het nie in ’n koninklike troonsaal as babaseuntjie gelê nie. Hy is in doeke toegedraai en het in diere se voerbak gelê. Die huis waarin Hy groot geword het was nie ’n paleis nie en hy was die Seun van ’n timmerman.

Dwarsdeur sy aardse lewe was Hy ook nooit as ’n Koning behandel nie. Hy moes van kleintyd af al vir Sy lewe vlug. In die stofstrate van klein dorpies het Hy rondgestap. Hy het nie in ’n blink koets rondgery nie en is nie deur duisende lyfwagte beskerm, of deur honderde slawe bedien nie. Nooit het Jesus as Koning, koninklike klere van goud en purper gedra nie. Herodes het wel vir Jesus ’n koninklike kleed aangetrek, maar dit was meer om sy totale minagting vir Hom uit te beeld. Die soldate dryf die spot verder deur vir ’n doringkroon op Jesus se kop te plaas. En die spot word oor die hele wêreld gehoor:”Is dit hoe ’n koning lyk?”

Die gevaar bestaan dat ons so deurdrenk word met die wêreldse denke en standaarde van wat koninklik is, en van wat of wie sosiale eer en status verdien.  Ons kan so met die nabootsings en karikature van ons tyd gebreinspoel raak, dat ons nie meer raaksien dat Jesus ons Koning is nie, en dat ons juis nou ’n Koning so broodnodig het nie!

GEBED

Here, Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U!

Laat ons met eng’le ’n loflied sing −

nie meer verlore; U is gebore!

Ontvang die dank wat ons U bring!

Jesus, ons loof U! Jesus, ons prys U!

Neem U ons harte en maak dit rein

dat ons, gelowig, U dien met liefde −

ontvang die lof van kinders klein. Amen.