Gedagte vir die dag | Dinsdag 13 Junie 2023

Vandag is Dinsdag 13 Junie en ons dink die week ’n bietjie na oor die kerklike seisoen van Koninkrykstyd waarbinne ons onsself bevind. Met die wegspring van hierdie tydperk besin ons oor die Triniteit en ons deelname saam met God.  Daaom lees ons elke oggend die aanhaling van Richard Rohr vanuit sy boek “The Devine Dance” te luister:

“The Holy Trinity is what flows under, around, and through all things – Father, Son, and Holy Spirit divinely dancing. The Holy Trinity is what we enter into as God’s beloved creation; our participation in the flow and divine dance enables us to be generous, serve others, and experience connection, harmony, and love.”

Die vraag vir ons vanuit hierdie aanhaling die week is:

  • Hoe raak ons deel van hierdie vloei saam met die Triniteit?
  • Hoe neem ons deel?

Kom ons luister na ’n gebed wat iemand geskryf het, wat ons hiermee kan help:

Omdat Christus ’n seun van Israel was, bid ons vir ons volk.

Omdat Christus die Seun van die Mens is, bid ons vir die wêreld en alle mense.

Omdat Christus die Woord is, bid ons vir die bedienaars van die Woord en almal wat met die Woord te doen het: onderwysers, pleitbesorgers, skrywers, digters, sprekers.

Omdat Christus ’n kind was, bid ons vir ons kinders dat hulle die geloof sal behou, en bid ons vir alle ouers dat hulle wysheid sal leer om liefde reg te gee en te ontvang.

Omdat Christus eensaam was, bid ons vir elkeen wat alleen moet bly, en vir elke verstotene wat te doen het met ’n wêreld wat nie begryp nie.

Omdat Christus die opstanding is, bid ons vir alle siekes wat aan hulle beddens gekluister is, of moeisaam voortsleep omdat hulle aan ’n kwaal ly.

Omdat Christus brood is, bid ons vir almal wat honger het, en vir sy meegevoel en innige jammerte om te help waar daar nood is.

Omdat Christus geen plek gehad het om sy hoof neer te lê nie, bid ons vir die dakloses, die armes en die verjaagdes.

Omdat Christus die Weg is, bid ons vir almal wat op reis gaan, en bowenal vir elke pelgrim op pad na die Ewige Stad.

Omdat Christus die Blink Môrester is, bid ons vir elkeen wat in geestelike of emosionele donkerte verkeer.

Omdat Christus die Oorwinnaar is, bid ons vir almal wat stryd voer teen die magte van die bose.

En omdat Christus Koning is, bid ons vir alle regeerders, almal wat in ’n posisie van gesag geplaas is – en dat hulle altyd sal weet dat sy Koninkryk kom, waaraan daar geen einde sal wees nie.

Amen.