Efesiërs 5:8: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.”
Vandag se teksgedeelte begin met ’n stelling. Vroeër was julle duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Dit is wie ons is in Christus. Iemand het onlangs met my gedeel dat daar twee maniere is om te leef. Eerstens, ’n lewe van prestasie en tweedens, ’n lewe van identiteit. As ons lewe volgens prestasie word ons identiteit gegrond op wat ons regkry. Ons meet onsself aan hoe ryk ons is, of hoe goed ons kinders op skool doen, of hoeveel likes ons op sosiale media kry. Wanneer ons prestasie najaag, is ons nooit genoeg nie. Maar wanneer ons besef wat ons identiteit is en daaruit begin leef, verander die prentjie. Paulus sê hier, in Christus is ons lig. Of ons lig of duisternis is, hang nie af van wat ons doen nie, maar wat Christus reeds namens ons gedoen het.
Nou ís julle lig. Leef dan as mense van die lig. Wees wie jy is in Christus. In hierdie Kerstyd is daar soveel druk op ons van verskillende kante af. Kersfees word dikwels nog ’n tyd van prestasie, waar ons ’n klomp dinge moet doen. Dalk is hierdie teksgedeelte ’n uitnodiging om hierdie Kersfees minder te doen en meer te wees.
In hierdie Adventstyd, mag jy reflekteer op die Lig wat aan die kom is na die wêreld, wat in ons harte skyn, om ons ’n nuwe identiteit as mense van die Lig te gee.
In hierdie Kerstyd, wees Lig.
Gebed
Here, ons word so maklik vasgevang in die leun dat ons altyd meer moet doen, dat ons waarde afhang van hoe goed ons presteer. Here, U noem ons waardevol, nie op grond van wat ons doen nie, maar op grond van Christus en wie ons in Hom is. Mag ons in hierdie Kerstyd die ware lig van Christus beleef. En mag ons die lig wees wat ons reeds in Christus is.
Amen