Die tweede tema van Gebed waaroor ons vandag reflekteer is ’n gebed van dankbaarheid. Psalm 100 is ’n mooi voorbeeld hiervan Psalm 100
1’n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here, almal op aarde!
2Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
3Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
4Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.
Refleksie
In Lukas 17 lees ons die verhaal van tien melaatse mans wat deur Jesus genees word, terwyl hulle op pad was om hulself vir die priesters by die tempel te wys, soos wat Jesus hulle beveel het. Lukas vertel dat net een van die tien mans omdraai om vir Jesus dankie te sê. Natuurlik gaan hierdie verhaal oor baie ander dinge ook, maar dit herinner ons om eenvoudig dankie te sê vir gebede wat verhoor word. Ons is dikwels gretig om in gebed vir iets te vra, maar dan vergeet ons om dankie te sê wanneer ons kry waarvoor ons gevra het.
Daar is ’n ou leuse wat lui: soos ons bid, so glo ons, so leef ons. Wat waar is vir ons gebed, is waarskynlik waar vir ons lewens ook. Wanneer ons leer om dankie te sê vir God vir die manier waarop Hy ons gebede verhoor, leer ons ook om meer dankbaar te wees teenoor ander mense in ons lewens.
Dink vandag terug aan iets waarvoor jy in gebed gevra het en wat die Here voorsien het. Sê vandag opnuut in gebed vir die Here dankie daarvoor.