Vandag is Dinsdag, 12 April en ons is besig om oor die tafel en Jesus se tafelgesprekke met ander te reflekteer. Kom ons wandel vandag saam in Lukas 24:28-35.
28 Toe hulle by die dorpie aankom waarheen hulle op pad was, het Hy gemaak of Hy verder wou gaan. 29 Hulle het egter by Hom aangedring en gesê: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby.” Toe het Hy ingegaan om by hulle oor te bly. 30 Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle. 31 Toe gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken, maar Hy het uit hulle gesig verdwyn. 32 Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?” 33 Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan. Daar kry hulle die elf en die ander mense bymekaar, 34 en dié sê: “Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!” 35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het, en hoe Hy aan hulle bekend geword het toe Hy die brood gebreek het.
As daardie Emmausgangers maar net besef het hulle stap, praat, kuier en eet saam met Jesus. As hulle maar vroeër besef het – Jesus het opgestaan. Hulle sou sekerlik elke oomblik in sy teenwoordigheid waardeer en geniet het. Gelukkig het hulle dit later besef en sekerlik oor en oor beleef. Gelukkig weet ons Jesus het opgestaan. Gelukkig weet ons dat Jesus steeds teenwoordig is in ons lewens en dat ons sy stem kan hoor. In sy Woord en deur sy Gees. Maar dan moet ons ingestel wees daarop om Hom te hoor en Hom te sien. Ons moet naby God leef met die verwagting en afwagting om Hom te hoor. Ons moet besig wees met sy Woord en ons moet bid. Ons moet oorgegee aan die Heilige Gees lewe. Ons moet gehoorsaam wees en reageer op wat Jesus vir ons sê, leer en wys. God is hier teenwoordig. Op aarde en in ons elkeen se midde.
Refleksie
Watter emosie het die teks by jou losgemaak?
- Skep dit opsies?
- Bring dit hoop?
- Maak dit vry?
- Daag dit jou uit?
- Gee dit rigting?
Gebed
Stilgebed in refleksie op die teks