Gedagte vir die dag | Dinsdag 11 Januarie 2022

Jesaja 55:8-9.  “8My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; 9soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.”

God se manier van dink en doen verskil dikwels drasties van ons eie gedagtes en idees.  Die planne wat ons maak lyk vir ons logies, werkbaar en na die beste oplossing, maar tog ervaar ons dikwels tot ons teleurstelling dat God se planne anders is as ons eie. Ons verstaan dit nie, waarom kies God soms ’n ompad en ’n moeiliker weg as wat ons self bedink het?

‘Vandag se teks moet ons eers teen die agtergrond waarin die profeet Jesaja met die volk Israel praat, verstaan. Hulle is in ballingskap in ’n vreemde land onder vreemde oorheersing. Jerusalem en die tempel is verwoes. Hulle is moedeloos en hopeloos, want dit lyk of die God van die verbond hulle in die steek gelaat het. Wat het geword van sy beloftes aan Abraham en sy nageslag; wat het geword van sy beloftes aan koning Dawid? Hulle is dan sy uitverkore volk aan wie die beloofde land toegesê is. Nou lyk dit asof al God se planne en gedagtes misluk het, van sy verbond en beloftes het niks oorgebly nie. Die profeet bring egter die boodskap van verlossing aan die volk.

Die verrassende nuus is dat God hierdie verlossing op ’n totale ander manier gaan bewerk as wat hulle gedink en beplan het. God rig hom tot koning Kores van die Perse. Hy gaan die instrument in God se hand word waarmee hy sy doel bereik. Hy wat oor baie volke regeer, word nou God se dienskneg. Die volk kan terugkeer na Jerusalem, die tempel sal herbou word, maar dit gebeur nie deur middel van ’n groot militêre leier en die vernietiging van hulle vyande nie. Hulle sal steeds in hulle land onder vreemde oorheersing wees met die goedgunstigheid van hulle oorheersers.

Daar is ’n groot verskil tussen God en mens. God is God, en mens is mens. Met ons beperkte menslike verstand kan ons sy gedagtes en optrede nooit verstaan nie. Sy gedagtes is so ver verhewe bo ons gedagtes, soos wat die hemel hoër is as die aarde. Die teksvers roep ons as gelowiges op tot ’n heilige eerbied vir God in die wete dat ons sy gedagtes nooit sal kan verklaar nie. Hierdie gedeelte wil ons juis daarvan verseker dat al kan ons God se gedagtes nie verstaan nie, weet ons dat sy optrede nooit sal misluk nie.

GEBED

Hemelse God en Vader. Dankie dat U in beheer is. Al verstaan ons nie altyd u besluite en oordele nie,  weet ons dat alles ten goede vir ons sal meewerk.

Amen