Johannes 4:10. Jesus het die Samaritaanse vrou geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: “Gee my ’n bietjie water om te drink”, sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het”.
Dit kan gebeur dat ons as gelowiges in ’n roetine beland waar ons oor God, eerder as met God praat. Leef ons daagliks met die perspektief dat God werklik by ons is? Dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het. In haar gesprek met Jesus praat sy met Hom oor godsdiens en die debat waar die regte plek van aanbidding is. Is dit die berg op Sigem of Jerusalem? Haar gesprek oor godsdiens oorskadu haar eie probleme. Jesus sien egeter daardeur en lei haar tot die punt om Hom in haar midde te sien en die vrymoedigheid te neem om eerlik haar lewe met die Here te deel. God is in hierdie oomblik by jou. Wat sou jy Hom wou vra? Maak jou emosies, denke en hart voor die Here oop en beleef hoe Hy jou vandag lewende water gee.
Gebed (liedboek 519)
Wees stil en weet, Ek is die Heer. Ek ken jou pyn, jou donkerste nag. Ek is by jou ek gee jou krag.
Wees stil en weet, Ek is die Heer. Kom bring na My jou kommer en vrees. Ek sal vir jou ’n toevlug wees.
Wees stil en weet, Ek is die Heer. Bly waak en bid. Volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof.