Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Maart 2022

Johannes 6:20.  “Dit is Ek, moenie bang wees nie.”

Ons almal ken die storie toe Jesus se dissipels tydens ’n hewige storm op die see van Galilea gevrees het vir hulle lewens en hoe Jesus op die water na hulle toe gestap het. Dit is toe dat Hy hierdie woorde gespreek het: “Dit is Ek, moenie bang wees nie.”

Net ‘n tydjie later, toe Jesus saam met hulle aan wal kom en ‘n aantal mense ontmoet wat hom soek, sê hy die volgende: “Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.”  Ons soek dikwels net vir God in die wonders en vergeet dat hy ook in die normale uitdagings van die lewe, by ons is. Ek dink aan daardie baie bekende sin in die Onse Vader gebed. “Gee ons vandag ons dag se brood”. Nie ’n maand se broodvoorraad nie, net genoeg vir vandag, want more is Hy weer daar om my genoeg te gee vir dié dag wat voorlê. Raak vandag bewus dat, alhoewel jy nie weet waarvan jy môre gaan leef nie, die Here elke dag in jou lewe verskyn om jou te gee wat jy daardie dag nodig het. Mag dit vandag die vrees en onsekerheid in jou tot bedaring bring. Maar meer nog dat dit jou juis in staat stel om vandag ‘n goeie en produktiewe dag te beleef.

Gebed

Here, die storms in my lewe oorweldig my. Ek voel vasgevang in wat ek om my sien en hoe mense om my oor die gevare van die hede praat. Bring vandag die rus van hierdie teks in my totstand. Om U in my alledaagse te ontmoet en kom maak die storm in my stil sodat ek kan fokus op wat hierdie dag belangrik is.

AMEN.