Gedagte vir die dag | Dinsdag 1 Desember 2020

Matteus 6:7,8: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hul gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.”

“Die oom bid my hamburger koud!”

“Pappa, die oom bid my hamburger koud!” Toe ’n kind dit sê tydens ’n lewenslange gebed voor ete was daar omtrent konsternasie rondom die tafel.

Van lang gebede gepraat, ek onthou hoedat die bekende prediker D. L. Moody een keer ’n lewenslange bidder onderbreek het. Tydens een van sy dienste toe iemand lank gebid het, het Moody opgestaan en gesê dat, terwyl die broer sy gebed voltooi, gaan die res van die mense solank ’n lied sing.

In Eksodus 14:15 sê God min of meer dieselfde vir Moses.  Hulle moet nou amen sê en aan die beweeg kom.  Dit gebeur terwyl Moses hier by God pleit om die Israeliete tot kalmte te bring. Dan antwoord God vir Moses dat hy eerder nou die Israeliete aan die trek moet kry.

Lyk my, ons moet partykeer korter bid en net begin doen wat die Here vra.  Prediker 5:1-2 waarsku juis teen te veel woorde in God se teenwoordigheid. “Ken jou plek, want Hy is in die hemel en jy op die aarde!” vermaan hy ons. Dan voeg hy by: “Laat jou woorde daarom min wees.”

In Matteus 6 sê Jesus ook dat ons gebede nie met ’n stortvloed van woorde gepaard moet gaan nie. God hou regtig nie telling van die lengte van ons gebede nie. Hy weet wat in ons harte leef.

Die Onse Vader gebed is ons norm hier.  Dit is Jesus se groot gebedsles aan ons.  Dit is kragtig en kort.  Bid presies so.  Bid opreg, kort en kragtig. (Stephan Joubert)

Gebed: U is my alles! Amen