Gedagte vir die dag | 2 Julie 2021

Die breër spasie van my denke

Ek het as tiener besef hoe my pa se dood my denke rondom ’n dag en ’n datum van redding verander het.  Ek sal nooit vergeet hoe my pa vier maande voor sy dood op ons stoep gesit het met pankreaskanker en ek vir hom gevra het: “Is pa nie bang pa is nie gered nie? Wanneer het pa geweet pa is gered?”  My pa se antwoord het my geskok, hy het vir my gesê: “Hanno, ek was nog altyd gered, dit is ’n reis nie ’n gebeurtenis nie”.  Ek dink die feit dat ek altyd verwag het dat gelowiges ’n dag en ’n datum moet hê van hulle sogenaamde redding het dit vir my moeilik gemaak om my pa se teorie te verstaan. My pa se woorde het my egter laat besef dat redding is ’n lewenslange reis van foute, gebroke omstandighede en geluk.

Toe die kerk vir ons in die verlede gesê het dat net sekere mense aan die groep mag behoort het dit tot gevolg gehad dat ons gesukkel het om ons denke te skuif en ruimte te skep vir nuwe mense om by die groep aan te sluit.  Die kerk het haarself juis onlangs in hierdie situasie bevind.  Paulus se verhaal is ’n interessante een, Saulus die offisier wat Christene vervolg, kom tot bekering op pad na Damaskus toe en dan skuif sy denke oor die Koninkryk van God drasties. Paulus reis van Jerusalem na Rome, waar hy in sy brief aan die Romeine die volgende sê:

Romeine 12:2. “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”

Dit is altyd vir my interessant dat Paulus se pad hierdie woorde tipeer “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. So asof Paulus se slagspreuk is, dat dit goed is om ruimte te skep rakende ons manier van dink oor God.  Hoe ons dink oor wie binne of buite die kerk moet wees, hoe ons dink oor verlossing en wie reg en verkeerd is.

God nooi ons uit om integraal te lewe en ruimte te skep in ons denkwyses.

Gebed:

Here, ons bid vandag dat U ons denke wat oud en rigied is sal vernuwe. Here, ons bid maak ons buigbaar en laat ons spasie skep in ons denke om die Koninkryk van God in die hier en nou te beleef.

Amen.