Jakobus 2:1.”My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.”
Die Afrikaanse spreekwoord spring dadelik in my gedagtes op: Moenie iemand op sy baadjie takseer nie. Maar doen ons nie juis dit heeltemal te maklik en outomaties nie? Ons “default” manier van kyk na ander is om mense op grond van hulle uiterlike voorkoms te oordeel, beoordeel, kategoriseer en steriotipeer.
Dit laat my dink aan die storie The Hungry Coat: A Tale from Turkey. Nasrettin Hoca is ’n wyse ou man. Hy het altyd waar hy kon mense gehelp. Hy sou nooit net verby gestap het nie. Eendag ry hy op sy grys donkie en sien dat daar mense is wat sukkel met hulle bok. Hy stop langs die pad om hulle met die bok te help. Dit neem egter ’n hele tydjie. Die gevolg is dat hy nie tyd het om huis toe te gaan en mooi aan te trek voor ’n fees nie. Toe hy met sy gelaste, vuil jas by die fees aankom, ignoreer almal hom. Hy nie eers kos aangebied nie! Niemand groet hom nie. Almal kyk ander pad. Hy gaan huis toe, was en trek ’n manjifieke jas aan. Terug by die fees word hy vreeslik formeel verwelkom en die beste kos word vir hom voorgesit. Hy vat stukkies van die kos, sit dit in sy jas en sê: “Eet jas, eet.” Die mense wou weet hoekom hy dit doen, waarop hy vertel hoe hy niks ontvang het toe sy jas vuil was nie, maar met hierdie jas bied almal vir hom kos aan. Al wat hy kan dink, is dat die gasheer gedink het die jas is baie belangrik! Almal by die fees het gelag en Nasrettin Hoca geprys vir sy wysheid.
Suid-Afrika beleef stormagtige tye. Sosiale onderskeid op grond van ras, klas en stand kenmerk ons samelewing al vir baie lank. Niemand in ons land is onskuldig as dit by vooroordeel en die neersien op ander kom nie. Daarom het ons die Here se hulp hiermee nodig.
GEBED
Here, ek belei vandag dat ek baie maklik oordeel. Ek takseer ook mense op hulle uiterlike en dan dink ek op ’n sekere manier oor hulle. Vergewe my daarvoor. Help my om die mooi in mense raak te sien ongeag die uiterlike voorkoms. Amen