Jakobus 1:22. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.
Nou bereik Jakobus die essensie van sy brief. Sy kerngedagte is dat die Woord uitgeleef moet word en dat dit nie net gehoor moet word nie. Jakobus lê baie klem daarop dat as ons die woord van die waarheid waarlik moet hoor en ontvang en dan moet dit na dade van gehoorsaamheid aan God se Woord oorgaan.
As ons bloot net die Woord hoor, maar dit nie na gehoorsaamheid in ons lewens omskakel nie, dan bedrieg ons onsself, en dit verduidelik Jakobus in verse 23-25, aan ons deur ’n beeld te gebruik. Iemand wat nie die woord in praktyk toepas nie is so goed soos iemand wat in ’n spieël kyk, sy/haar gesig sien, dit bestudeer en dan weggaan en vergeet hoe hy/sy gelyk het. Met ander woorde dit beteken niks. Die ware hoorder vergeet nie God se Woord nie, dit bepaal ’n mens se hele lewe, en daarom is so ’n persoon gelukkig en geseënd in alles wat sy/hy doen.
Jakobus plaas klem op die praktiese uitleef van ons geloof. Geloof is nie ’n teorie of ’n filosofiese probleem nie. Geloof is nie ’n intellektuele konsep of ’n interessante diskussie nie. Geloof is praktiese aksie. Solank geloof nog nie ’n impak op jou gemaak het nie, het God nog nie ’n lewende werklikheid in jou lewe geword nie. Die doen van geloof spruit uit ’n hart en lewe wat deur God aangeraak is.
Dit is wat die Here Jesus ons ook aan die einde van die bergrede geleer het, Matt.7:24: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. So ware godsdiens is ook ’n praktiese godsdiens, praktiese Christenwees.
GEBED
Here, ek moet vandag bely dat ek dikwels net ’n hoorder van U Woord is. Ek wil my vandag ook kom verbind om ’n dader te wees. Om dit wat U Woord my beveel uit te leef. Amen