Gebottelde hoop . . .

Die gemeente se hande-en-rande-groep bestaan uit ’n groep weldoeners wat  weekliks verantwoordelikheid aanvaar vir die voorbereiding, kook en uitdeel van liters en liters sop aan minderbevoorregte gesinne.

In die laaste kwartaal van dié jaar pak hierdie groep ywerige helpers toe sommer nog ’n projek aan en besluit om leë glaskoffieflesse met droë sopbestanddele te vul.  “Die flesse-vol-hoop, soos die projek bekend staan, bied aan vier mense ’n maaltyd,” sê Anéne Nortier, projekleier.

“Toe ons die flesse en die droë bestanddele begin insamel, het een van die groeplede voorgestel dat ons die projek by die gemeente se feesmark bemark. Feesmarkklante is die geleentheid gebied om wanneer hulle vir hul aankope betaal, ’n kontantbydrae tot die flesse-vol-hoop-projek te maak.  Hulle koop toe as’t ware ’n tikkie hoop vir iemand anders in wie se daaglikse bestaan daar min sprake van hoop bestaan.”

Anéne  verduidelik feesmarkbesoekers kon dus bloot deur die skandering van ’n houtskyfie by die kasregisters, R15 tot die insamelingspoging bydra en met dié inisiatief is die verstommende bedrag van R17 655 ingesamel.

Die flesse-vol-hoop sal in Ravensmead, Wesbank en Khayelitsha onder gesinne versprei word.  Die bedrag wat by die feesmark ingevorder is, stel die hande-en-rande-groep nou boonop in staat om ook ’n kospakkie vir die gesinne saam te stel, wat hopelik sal help om die honger tydens die Kersgety in bedwang te hou.

Indien jy graag tot die mooi projek wil bydra, kan jy ’n kontantbydrae tot die hande-en-rande-fonds maak.  Bydraes kan oorbetaal word aan: NG kerk Stellenberg, tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005, verwysing HANDE EN RANDE.