Feesmark – dalk nog nie totsiens nie

Feesmark 2020 sou na agt jaar Marelize Verreyne se laaste feesmark om te reël, gewees het.  Sy het aftreeouderdom bereik en die modieuse ouma van vier kleinkinders, met die vyfde enetjie DV op pad in Augustus, het besluit dit raak tyd om meer aandag aan haarself, haar man en geliefde kinders en kleinkinders te gee.

“En toe kom die koronavirus alles deurmekaarkrap,” sê Marilize.  “Ek is nog baie onseker of ek volgende jaar se mark sal aanpak.  Sonder om dweperig te klink, het ek besluit om regtig te bid daaroor.  Ek glo die Here sal my soos talle ander kere in my lewe van leiding voorsien.

“Wanneer ek dink aan die mark wat nie kan plaasvind nie, word ek deur magteloosheid oorval.  Ek en Adri, medeorganiseerder, het soveel nuwe planne gehad, veral wat die restaurant betref.  Ek sou ook so graag behoorlik van al die uitstallers wou afskeid neem –  baie van hulle voel al soos familie.  Maar ek was vir 30 jaar ’n boervrou op ’n Karooplaas en daar het ek tussen langdurige droogtes en baie swaarkry geleer om die terugslae in my lewe agter die rug te sit en vorentoe te kyk.  Toe my eerste man, Christo, in 2009 verongeluk het, het ek stoksielalleen, met geen telefoonverbinding op die plaas nie en 100 km van die naaste dorp af,  gewoon.  Dit was op ’n manier goed vir my, want dit het my die geleentheid gegee om deur die rouproses te werk en te besef dat ek vir my eie geluk verantwoordelik is.  Uiteindelik kan net jy besluit hoe jy die lewe gaan trotseer – gaan jy bly lê, of gaan jy opstaan en weer begin?

“Stellenberg-gemeente en in die besonder die feesmark, het vir my ’n veilige hawe geword toe ek Kaap toe verhuis het en vir my ’n geleentheid gebied om my gawes te kon uitleef.  My kinders en Callie Visagie se kinders was vriende en deur dié vriendskappe het die Vosburg Karookuier ontstaan.  Dit het ook my keuse van ’n nuwe tuiste beïnvloed en toe ek na Christo se dood die plaas moes verlaat, het ek my in Stellenberg-omgewing kom vestig omdat ek reeds mense hier geken het.  Die uitstallers en die mense wat saam met my gewerk het, soos die kassiere, pakkers en vloerbestuurders, is en sal altyd die kosbaarste deel van my verbintenis met die mark wees.

“Ek was tot ’n mate baie verbaas oor die uitstallers se reaksie rakende die kansellasie van die mark.  Ek dink hulle het dit grootliks verwag, maar ons uitstallers is werklik kreatiewe mense.  Hulle sien vinnig nuwe geleenthede raak en spring dan in.  Een van ons uitstallers het sommer aan die begin van die inperking begin maskers maak en reeds R40 000 se maskers verkoop.  Sekere van ons uitstallers verkoop ook reeds hulle ware deur middel van Facebook en aanlyn winkels.

“Ons het baie gestoei met die moontlikheid van ’n aanlyn winkel, maar nadat ons kundige advies ingewin het, het ons besef ons gaan sukkel om dit winsgewend te bedryf.  Ons uitstallers was ook nie baie positief oor die moontlikheid nie.  Baie van hulle verkoop ’n verskeidenheid klein artikels wat mense so terloops in ’n inkopiemandjie gooi wanneer hulle die mark besoek, maar dis nie noodwendig goedjies wat hulle aanlyn gaan bestel as hulle nog boonop bykomende afleweringskoste moet betaal nie.

“Ek is wel baie bekommerd oor ons ouer uitstallers wat al jare lank hulle ware op die feesmark verkoop.  Die meeste van hulle is nie so rekenaarvaardig nie en gaan sukkel om hulle produkte aanlyn te bemark.  Die feesmark was juis vir hulle ’n lewensaar, want in heelwat gevalle was dit boonop ’n belangrike aanvulling tot hul karige pensioengeld.

“Ek en Adri, my medeorganiseerder, is egter altyd vol planne en ons het die afgelope maande baie nagte wakker gelê en met al die planne in ons gedagtes geroei en gestoei.  Ons dink aan die moontlikheid van ’n voedselfees volgende jaar saam met die basaar en oorweeg enige opsie wat werkbaar klink.  Maar vir nou is alles eers te onseker en moet ons geduldig wag om ’n duideliker prentjie te kry van wat ons toekoms inhou.   Intussen probeer ek my bes om positief te bly en is ek en Adri altyd opgewonde om ’n nuwe plan, of moontlikheid te ondersoek.