Die feesmark begin vanjaar ’n week later as vorige jare. “Die mark se deure open op Maandag 23 Oktober en sluit op Saterdag 11 November,” sê Karen Visagie, organiseerder. “Die motivering vir die verskuiwing van die datums was grootliks om die einde van die maand en klante se betaaldatums optimaal te benut. Inkopietye bly dieselfde. Die mark is weeksdae van 10:00 tot 20:00 oop en Saterdae vanaf 09:00 tot 18:00.”
Daar is weer 430 uitstallers by die mark en items word vanjaar meer gekategoriseer uitgestal. Karen en Sheree-Lee Gildenhuys, feesmarkassistent, is opgewonde oor ’n paar nuwe uitstallings, onder andere iemand met baie mooi ingevoerde handsakke, die pragtige mandjies van Wood Wire Wicker, ’n groot verskeidenheid nuwe kerse, geroosterde neute wat op die perseel gerooster gaan word en ’n lekkergoedstalletjie wat lekkers van oor die hele wêreld heen, verkoop.
’n Verskeidenheid kosstalletjies sal nogeens sorg vir lekker maaltye wat in die restaurant-area geniet kan word. Al die ou bekende disse sal weer beskikbaar wees, maar al die kosstalletjies het ook nuwe toevoegings op hulle spyskaarte aangebring. Daar is ook vanjaar ’n snoek-en-patat-stalletjie en die twee koffiewinkeltjies, een in die kleinsaal en een in die restaurant-area, word deur Emo Adams en sy vrou, Michelle, bedryf.
“Ons kan nie wag nie,” sê Karen. “Alles is gereed. Al wat nou moet gebeur, is dat die datum moet aanbreek en die mense moet kom kuier en al die mooi goed op die mark kom bekyk.”
Nooi asseblief ook jou vriende en familie om hierdie groot fondsinsamelingsprojek van die gemeente te ondersteun.