Deur: Riëtte Breytenbach
My en Marius se eerste ontmoeting met Bremer en Erna was in 2004 op Kleinmond. Dit was ons eerste gemeente en ons het pas gehoor die standplaasruiling van predikante tussen Stellenberg, Kleinmond en die Paarl is goedgekeur deur die verskillende kerkrade – ons trek dus Stellenberg toe. Bremer en Erna het kom aanklop om solank welkom te sê in Stellenberg. Soos ons mekaar uitvra oor belangstellings, kinders en dies meer, verklaar Bremer: “Erna is ’n érnstige stapper.”
My tweede ontmoeting met Erna was in Junie 2004, toe ons tydelik intrek in Mauritiussingel. Met haar bloedrooi, noupassende koordferweeljassie en gekleurde streepsokkies, gee sy ’n kleurvolle bossie blomme aan my: “Mag jou tyd in Stellenberg so kleurvol soos dié bossie blomme wees”. Ek vra uit oor die jassie. “Ag, sommer self gemaak . . .” (Erna, die KREATIEWE SKEPPER)
Ons derde samekoms was by hulle huis rondom ’n heerlike pastaslaai. Ek vra uit oor die resep en laggend sê Erna sy doen maar haar eie ding van ’n bestaande resep. “Dit kom nooit dieselfde uit nie.” (Erna, die VINDINGRYKE KOK).
Ons wegspring in Stellenberg was met Bremer en Erna as bure – hulle in Woltemadestraat en ons aan die oorkant in Mauritiussingel. In 2005 trek ons Jasmynstraat toe en groot is die vreugde toe hulle in 2006 weer eens bure raak na Koosie Delport se aftrede.
Soos mense kom en gaan in die boek van ons lewens, is sommige dalk deel van ’n hoofstuk of twee; sommige is slegs ’n verwysing in ’n voetnota of ’n nommer in die inhoudsopgawe en sommige gaan ’n plekkie naby die slot in jou boek kry.
Hoofkarakters is ‘n ander storie. Hulle is deurgaans daar. Betrokke. Essensieel om aan die storielyn inhoud, betekenis en karakter te gee. Saam te lag en saam te huil; saam opgewonde te raak en saam bekommerd te wees; saam planne maak of opinies uit deel; saam dinge te deel wat kosbaar is; saam die lewe bevraagteken of uitdaag. Hoofkarakters is in jou storielyn verweef. Dis om saam-saam die pad te loop met al die onverwagse, skerp draaie, hindernisse en T-aansluitings.
Soos ek luister na vriendinne om my, vra ek eendag vir Erna: “Hoe was menopause vir jou?” “Ag nee wat,” sê sy, “ek het my glad nie daaraan gesteur nie!” Dit was so tipies van haar menswees. Tekkies aangetrek en enige hindernis of bekommernis uitgestap uit haar sisteem.
In die nagtelike ure van 22 Maart skrik ek net voor 03:00 wakker, met ’n beklemming om my hart. Bid vir my kinders en rol rond. Ek gaan maak later tee en wag dat hierdie vreemde, onrustige gevoel moet weggaan. Erna se sterfdag.
Ons stories moet nou aangaan sonder haar, maar Erna is die tipe hoofkarakter wat sal voortleef tot die laaste sin in my lewensboek. Haar menswees los ‘n ewigheidswaarde. Dis nie beperk tot die hede en nou nie.
Amanda Strydom sing in haar Pelgrimsgebed:
“Alle pelgrims keer weer huis toe
Elke swerwer kom weer tuis
Ek verdwaal steeds op die grootpad
Soekend na u boardinghuis.
Ons vriendin is na haar ewige tuiste. Nie soekend. Nie dwalend.
Ons stap nou aan, asof verdwaal, maar soos ons sonder haar op die grootpad van die lewe gaan verlang, sal ons haar stem en lag hoor en sal sy rigting aangee in ons gees.
Wat ’n voorreg dat sy deel was en deel sal bly van ons lewe.