Elke huis het sy kruis

 

deur ds. Marius Breytenbach

Ons bevind ons tans midde-in die lydenstyd wat met Aswoensdag op Woensdag 14 Februarie begin het en na 40 dae lei tot Palmsondag (Sondag 25 Maart), waartydens Jesus se aankoms in Jerusalem om die Joodse Paasfees te vier, gedenk word. Daarna breek die Groot Lydensweek aan, gevolg deur Jesus se kruisiging op die Vrydag en sy opstanding op Paassondag, wat ons vanjaar op 1 April vier.

Die gebruik is dat op  Aswoensdag die palmtakke van die vorige jaar se Palmsondag verbrand word en die as dan met olyfolie gemeng word en in die vorm van ’n kruis op die voorkop van lidmate aangebring word, waarna hulle die woorde “Mens, dink daaraan dat jy stof is en tot stof sal terugkeer” teenoor medelidmate herhaal.  As is egter nie net ’n teken van ons verganklikheid nie, maar ook van boetedoening (vandaar die gebruik om as op die kop te strooi as teken van berou). Vir gelowiges is lydenstyd ’n tyd van dissipline en opoffering. Sommige gelowiges vas, terwyl ander hulle weerhou van iets wat gewoonlik deel is van hulle dagroetine.

In Stellenberg vier ons hierdie besondere tyd met ons fokusprogram ’n Vrygewige lewe. In 2 Korintiërs 8:9 skryf Paulus die volgende hieroor: “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus:  hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word”. As teken dat ons as gemeente die tyd saam vier, vra ons mense om rooi kruise aan die voorkant van hulle huise aan te bring – elke huis het sy kruis.  Deur hierdie inisiatief vier ons nie net saam die lydenstyd nie, maar beeld die kruise ook die realiteit van seerkry, swaarkry en bekommernis wat ons deel, uit.  Meer nog, dit verkondig dat ons in Christus se opstanding glo en in die genesing, vergifnis en nuwe lewe wat dit bring. Daarom kan die kruise maar permanent voor ons huise bly.

Die week wat die wêreld verander het:  Die Groot Lydensweek (25 Maart – 1 April)

In die kerkgeskiedenis is die historiese gebeure tydens die laaste week van Jesus se leeftyd op aarde, tot en met sy opstanding, kronologies gerekonstrueer. Die bedoeling was dat gelowiges tydens dié week elke oggend bymekaar sou kom om te gesels oor wat Jesus op dáárdie spesifieke dag gedoen en wat met Hom gebeur het. Dié week het in die kerk begin bekend staan as die Heilige Week, of in ons tradisie, as die Groot Lydensweek.

In Stellenberg herdenk ons die gebeure van daardié week met die volgende uur-programme waarna ons julle graag uitnooi:

  • Sondag 25 Maart 09:00, kerk –  Ons vier Jesus se intog in Jerusalem vir die Joodse Paasfees, met ’n gesamentlike diens in die kerkgebou.  Daar is dus nie ’n familiediens in die kleinsaal, of ’n meditatiewe diens in die kapel nie. Ons tradisionele Via Dolorosa-uitstalling verskuif gedurende hierdie week na die kerkgebou.  Dit word in ’n vereenvoudigde formaat aangebied en mense kan dit deur die dag besoek.
  • Maandag 26 Maart 19:00, kerk – Francois Wessels kom praat met ons oor hoe die Joodse Paasfees, waarvoor Jesus Jerusalem besoek het, verloop het en hoe dit ons as Christene vandag raak. Daarna eet ons saam in die Markplein, aangesien dit ook pas by die tradisionele Joodse Paasfees.
  • Dinsdag 27 Maart 19:00, kerk – Daar word ’n meditatiewe diens in die kerkgebou gehou met musiek, stilte en gebed.
  • Woensdag 28 Maart 19:00, kerk – Neil Buchner tree op met sang en getuienis.
  • Donderdag 29 Maart 19:00, kerk –  Ons dink terug aan Jesus se instelling van die nagmaal. Ons gebruik die nagmaal in afwagting van die dramatiese gebeure wat tot sy inhegtenisname sou lei.
  • Vrydagoggend 30 Maart 09:00, kerk – Ons vier Goeie Vrydag met ’n erediens. Dit is die dag waarop Jesus sy kruis gedra en voor sononder gesterf het.
  • Paassondag 1 April 06:15, kerk –  Ons vier Jesus se opstanding met ’n kort erediens waartydens ons die nagmaal gebruik. Na die diens wag ons almal saam buite die kerk op die sonsopkoms. Om 09:00 volg ons tradisionele Paasdiens in die kerk.