Ek glo . . . in die kerk

Deur: ds. Marius Breytenbach

Dit is tans Paasfeestyd en binnekort breek Pinkstersondag aan wat ons herinner aan die uitstorting van die Heilige Gees 50 dae na Jesus se opstanding.

Die eerste gelowiges het gou besef hoe hierdie gebeure hulle lewens aangeraak het. Christus se dood en opstanding het hulle geloof in nuwe lewe en God se heerskappy oor alles, versterk. Ook het gelowiges mettertyd bely dat God op hierdie manier voortdurend hulle sondes vergewe en hulle met Hom en hul medemens versoen. Die uitstorting van die Heilige Gees het hulle herinner aan die realiteit dat God in hulle midde is om hulle te troos, te lei, te leer en te inspireer. Die Here se opstanding en sy Gees het mense spontaan nader aan mekaar gebring en die krag daarvan het gemanifesteer in liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23). Al hierdie gebeure en gevolge het betekenisvol gestalte gekry in ’n nuwe en baie sigbare vorm: Die kerk. In die Here se groot wysheid het Hy hierdie gemeenskap geseën met ’n verskeidenheid van persoonlikhede en gawes. Uit die Bybel lei ons af dat God se doel met die kerk iets veel meer was en dat sy koninkryk alles wat Hy geskep het, sou insluit.

Dit is dan ook ons fokus in die gemeente vir hierdie kwartaal. Ons glo in die kerk – ’n gemeenskap van gewone mense met foute, mense wat kan seerkry, maar ook mense wat deur God geseën is met besondere gawes en vermoëns; ’n gemeenskap wat glo in vergifnis en vernuwing en dat ons in diens staan van iets veel groters: Die koninkryk van God.

Mag ons almal tydens die belewing van die Paas- en Pinksterfees, weer diep onder die indruk kom van die eenvoud, impak en reikwydte wat ons deelwees aan  Stellenberg-gemeente tot gevolg kan hê.