Duan en Dirmü Gouws – nie gebore nie, maar getoë in Stellenberg-gemeente

Foto links: Dirmü (heel links) en maters in 1987 by die skoolverlaterskamp in Melkbosstrand.  Foto middel: Duan en Dirmü Gouws saam met ds. Carel van Wyk op hulle troudag op 4 Maart 1995. Foto regs: Soos die twee Gouwse vandag daar uitsien.

 

Dirmü en Duan Gouws het beide in Stellenberg-gemeente grootgeword en is onderskeidelik sedert 1971 en 1976 feitlik ononderbroke lidmate van die gemeente.  Hulle het dus die 50-jaar-mylpaal stap vir stap saam met die gemeente beleef.

Stellenberger loer vinnig in by ’n besige Dirmü wat, soos almal haar ken, altyd ’n glimlag op haar gesig het en met haar borrelende energie gelyktydig aandag aan al die hooi op haar vurk gee.  Tussen e-posse, telefoonoproepe en WhatsApp-boodskappe waarmee sy haar onderneming, wat onafhanklike marknavorsing doen, bedryf, gesels ons met dié ouderling van die gemeente.

“Ek het in Panoramarylaan grootgeword en Duan, die bekende gesig op feesgeleenthede agter die wyn-en-koeldranktoonbank, het in Vredenbergrylaan gewoon,” sê Dirmü.  “Ons woon trouens sedert 2000 in Duan se ouers se huis.  Ons twee was in dieselfde laerskool, maar verskillende hoërskole.  Ons het saam aan die destydse Kaapse Technikon studeer, maar die liefde het eers na ons studies begin blom,” skerts Dirmü.  ”Ek het eers ’n draai oorsee gemaak en toe ek terugkeer na Suid-Afrika, het ek en Duan mekaar herontmoet.  Ds. Carel van Wyk het ons destyds in die kerk getrou. Ons het vir ’n jaar na ons troue by ’n ander gemeente ingeskakel, aangesien ons toe in Brackenfell gewoon het, maar ons het net te veel na Stellenberg verlang en toe maar weer by die gemeente as buitelidmate ingeskakel. En so het ons verhaal saam met die gemeente begin.  Ons twee kinders is ook hier gedoop.

“Ek was in standerd 4 toe ds. Bremer Gericke die jeugbediening in die gemeente begin behartig het.  Ek het baie heimwee oor die talle SKJA-kampe wat ek saam met hom meegemaak het.  So het dit dan ook gebeur dat juis hy my in 2005 gevra het om as sy wyk se ouderling in die kerkraad te dien.

“Aanvanklik het Bremer my natuurlik met ’n slap riem gevang,” lag Dirmü.  “Hy het gesê as ouderling moet ek wanneer ek en hy ’n vergadering oor wyksaangeleenthede het, vir hom ’n sjokolade saambring.  Dit was blykbaar volgens hom die voorgeskrewe prosedure en ek het my maar deur die sogenaamde voorskif laat welgeval en hy het oor die jare heen baie sjokolades geëet.”

Sestien jaar later dien Dirmü steeds getrou in die kerkraad en vertel dat alhoewel sy haarself eerder ’n doener as ’n dinker beskou, is dit tog vir haar lekker om deel te wees van die visionêre besluite wat deur die kerkraad geneem word, want dit gee die rigting en pas van die gemeente se bedienings en aktiwiteite aan.

“Dit bly vir my en Duan ’n wonderlike voorreg om in die gemeente betrokke te wees.   Ons het oor die jare heen by verskillende gemeenteaktiwiteite betrokke geraak.  Aanvanklik as kategete en later by die gemeente se uitreike na Vosburg-gemeente en ook die basaar.  As kategete het ons wonderlike verbintenisse met ander lidmate gemaak en die een kategetegroep is steeds vyf jaar later, na die kinders al klaar met skool en kategese is,  in verbinding met mekaar.  Dieselfde geld vir vriendskappe met die Vosburgers.  Ons het wonderlike vriende met van die boere in Vosburg gemaak en kuier sommer nou dwarsdeur die jaar oor en weer.”

Oor die grootste veranderinge wat gedurende die afgelope 50 jaar in die gemeente plaasgevind het, meld Dirmü dat die algehele aanslag in die gemeente meer informeel geraak het.  “’n Mens het seker ’n sekere sentiment oor die formaliteit wat in die verlede geheers het, maar dit sou onvanpas wees in die hedendaagse samelewing.

“Verder slaag die gemeente daarin om die veranderende en verskillende behoeftes van lidmate in ag te neem.  Ek en Duan het die familiediens en die kosbare liedjie ‘My emmertjie loop oor’  nou ontgroei en het nou meer ’n behoefte aan ’n meditatiewe diens.  Daar is dus in Stellenberg voortdurend vir elke lidmaat met sy of haar unieke behoeftes ’n plek.”