Ds. Marius Schoombie – jonk in lewensjare, maar ryk aan lewenservaring

Ds. Marius Schoombie is sedert 1 Julie voltyds in diens van Stellenberg-gemeente. Hy is aangestel as die leraar met fokus op die jeug, wat die bediening van tieners, jong volwassenes en ook studente insluit. Daarmee saam sal hy ook verantwoordelikheid vir sekere ander bedienings in die gemeente aanvaar.

Stellenberger het met hom gesels om hom ’n bietjie beter te leer ken.

Vertel ons waar jy grootgeword het en iets oor jou gesin en vormingsjare.

Ek is in Pretoria gebore en het in ‘n liefdevolle ouerhuis grootgeword saam met my twee broers. Ek was in Laerskool Elarduspark en in Hoërskool Waterkloof. My pa is ’n ingenieur en my ma was eers ’n verpleegster, maar nadat ons gebore is, voltyds ’n tuisteskepper.

My oudste broer is oorlede toe ek 15 jaar oud was. Hy was ’n teologiestudent en het op die aand van sy dood nog by ons gemeente in Elarduspark gepreek. Op pad huis toe het ’n bestuurder wat onder die invloed van alkohol was, in hom vasgejaag. Hy is eers in die hospitaal opgeneem, maar is tydens hospitalisasie oorlede.

Die insident het ’n ingrypende invloed op my lewe gehad. Ek glo dit is dan ook dié trauma wat my ’n sensitiwiteit vir ander se seer en trauma laat ontwikkel het.

My grootwordjare was vol boomklim en natuur. My ma het my leer bak, waarvoor ek nou nog baie lief is en my pa het my geleer om alles uitmekaar uit te haal en weer reg te maak. Ek was ook baie lief vir sport en speel nou nog graag amper alles!

Het jy van skool gehou, of het jy eerder tuis op ander plekke gevoel?

Skool was nie noodwendig vir my sleg nie. Daar was komponente waarvan ek gehou het, soos dat ek hokkie geniet het. Ek was onderhoofseun van  Hoërskool Waterkloof, maar skool was nie eintlik my eerste prioriteit nie. Ek was in daardie fase van my lewe effens stroomop en ek wou nie noodwendig in ’n bepaalde boksie of raampie inpas nie. Ek was eerder vriende met die ouens wat buite die aanvaarde norme en reëls gefunksioneer het. Ek het interessant genoeg baie meer tuis by die kerk as in die skool gevoel.

Ons gemeente, NG kerk Elarduspark, het baie moeite met hulle tienerbediening gedoen en my oudste broer was voor sy dood ook baie betrokke by dié bediening. Hy en van sy vriende het juis ’n bediening begin wat baie aktief en gewild was en waarby ek toe ook betrokke geraak het. Dit was sy nalatenskap aan die gemeente en ek wou graag daar betrokke bly sodat ek sy storie kon laat voortleef.

Hoekom teologie studeer?

Om teologie te studeer was half en half vir my ’n natuurlike keuse en ook deel van my storie. Ek was lief vir die kerk en die geskiedenis van die Bybel en die teologie het my geweldig geïnteresseer.

Wat betref die roeping om voltyds in die bediening te gaan, dink ek daar is twee roetes wat ’n mens kan volg. Die een is soos Paulus se Damaskuservaring, waar iets ingrypends in ’n mens se lewe gebeur en jy dan geroepe voel om jou lewe aan die bediening te wy. Die ander is meer ’n roete soos Samuel se lewensverhaal, waar ’n mens se geloofsreis maar nog altyd deel van jou lewensgang was. My eie roeping is meer soos Samuel s’n. Ek het wel gereeld in my lewe bevestiging ontvang dat ek tot die bediening moet toetree en ek kan myself nou regtig in niks anders sien nie.

Vertel ons oor jou loopbaan, jou jare op universiteit en ervaringe by jou vorige gemeente.

Ek het as jeugwerker by Elarduspark-gemeente gewerk terwyl ek studeer het en ek was altyd by die musiekbediening betrokke. Ek het Pauline, my vrou, ook by die kerk ontmoet en ons is getroud net na ek my studie voltooi het en ek na die NG kerk Suidkus in Amanzimtoti beroep is. Pauline het haar BSc-graad in fisiologie, genetika en sielkunde voltooi en het begin skoolhou.

By die gemeente in Amanzimtoti, waar ek vyf jaar gewerk het, het ek ontsettend baie geleer. Met my aankoms daar het die gemeenskap pas ’n enorme vloed oorleef en beide hulle gemeenteleraars wat meer as dertig jaar  in die gemeente werksaam was, het toe ook boonop amper gelyk afgetree. Kort na my is ds. Liezel de Jager ook aangestel. Toe tref die Covid-19-pandemie ons en ons was nog besig om al steierende daarvan te herstel, toe volg die gewelddadige onluste in Kwazulu-Natal. Net na die onluste is my geliefde kollega, Liezel, vermoor.

Ek is steeds rou en seer oor haar dood wat ongeveer tien maande gelede plaasgevind het. Sy was ’n wonderlike kollega en werklik ’n geroepe volgeling van die Here. Sy het altyd gesê sy weet sy is maar net een deeltjie van sy groter plan.

Haar dood, net soos my broer se dood, het net weereens vir my die misterie van die dood bevestig. ’n Mens sou kon dink dat beide hierdie mense soveel vir die koninkryk kon beteken indien hulle die geleentheid gehad het om te leef en die Here se werk hier op aarde te doen. Maar, tog is daar in hulle dood ook ’n onsaghebbende getuienis van God se liefde en die uiteindelike besef dat ons as mense geen beheer het nie – ons is slegs deel van God se storie.

NG Suidkus het vir my en Pauline so baie beteken, ons het geleer hoop kweek en om liefde in mense raak te sien! Ons het werklik geleer dat tussendeur die seer is daar soveel stukkies lig. Ons het geleer dat God se kerk hoop kweek as ons as gemeente hande vat en saamstap. Ons het saam met die gemeenskap moeilike vrae gevra; saam gesing en gelag, saam gehuil in baie moeilike tye; saam by barrikades in die straat tydens onluste waggestaan; saam brood gebak met bestanddele uit gemeentelede se leë koskaste toe al die winkels gesluit was tydens die betogings; saam water by die kerk opgemop na die vloede; saam trokke vol donasies afgelaai. Ons het geleer om in dankbaarheid vir God se genade te leef.

Wat doen jy in jou vryetyd?

Ek is baie lief vir musiek, lees en leer. Ek speel self kitaar en skryf ook, maar ek lees meer as wat ek skryf. Ek het seker ’n effense perfeksionistiese streep, want ek het pakke halfgeskryfde liedjies wat nooit afgehandel word nie, omdat ek gewoonlik voel dit sê nie presies wat ek dink, of voel nie.

Ek lees meestal fantasie-fiksie. JRR Tolkien is een van my groot helde en sy stories het ’n reuse-impak op my lewe en denke gehad. My en Pauline se troue het selfs so bietjie van ’n hobbit-tema gehad. Ek gebruik dikwels stories om sin van die wêreld te maak en verwys ook dikwels in my preke na sulke stories of beelde.

Ek is ook ontsettend lief vir die natuur en pak graag staproetes aan. Die natuur is die een plek waar ek regtig God se teenwoordigheid kan ervaar.

Wat is volgens jou van die grootste uitdagings waarmee tieners tans te doen het?

Ek dink veral tieners wat in die stad grootword se een groot uitdaging is om al die versoekinge waaraan hulle blootgestel word en wat hul aandag wil “beheer”, te trotseer. Hulle het so baie opsies om van te kies dat hulle baie maklik in ’n lewe van gewoonte verval en nie werklik gefokus leef volgens ’n bepaalde waardesisteem en doelwitte nie. Ek glo die kerk het ’n groot rol te speel om jongmense te begelei om te bepaal wat hulle met hulle lewens wil doen en dan ook om ’n doelgerigte lewe daarvolgens te lei.

Een van die grootste uitdagings, veral in die stad, is om te onderskei wat werklik belangrik is en vervulling in die lewe bring, teenoor wat onbelangrik is. Ook om tussen al die voorbeelde deur uit te pluis waar hulle inpas, om te ontdek wie hulle is, soos wie hulle moet wees en wat regtig saak maak in die lewe. Daar is so baie dinge wat meeding om jongmense se aandag. Dit is juis hoekom ek glo dat die kerk en geloofsgemeenskap so belangrik is – om die jeug te begelei om te ontdek wat werklik belangrik in die lewe is.

Het jy ’n paar idees rakende wat jy graag hier in Stellenberg wil doen?

’n Mens begin altyd met luister en leer. Ek sal wel graag wil sien dat die jeugbediening meer met die res van die gemeente integreer. Jongmense moet deel van die hele gemeente voel en nie onder die indruk kom dat hulle net by die jeugbediening tuis is nie. Die jeug is nie die toekoms van die kerk nie, die jeug is nóú alreeds deel van die kerk. Ek sal ook graag ’n stapgroep vir jongmense wil vestig omdat die natuur vir my ’n belangrike rol in my bediening speel.

Ons deel graag die volgende uit ds. Marius Schoombie se pen. Hy het dit in 2018 vir die Kerkbode geskryf:

Die vraag is hoe God teenwoordig is

In die 13de eeu het Thomas Aquinas die opmer­king gemaak dat die ontsaglike diversiteit en pluri­formiteit van die skepping God beter ver­teen­­woor­dig as enige skepsel alleen. Die skepping ver­­­­teenwoordig God.

Ek lees ook Job 12, waar God vir Job sê: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel, of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê. Wie van hulle weet nie almal dat die hand van die Here alles gemaak het nie?”

Soos wat ons na enige kunswerk kan kyk en die wese van die kunstenaar daarin kan raaksien, kyk ons na die skepping en sien die wese van die Skepper. Die ganse skepping getuig van God. En terwyl ek David Attenborough se Planet Earth en The Blue Planet dokumentêre kyk, beleef ek die evangelie dat God werklik goed ge­skep het. Hoe langer en hoe dieper ek die kunswerk bestudeer, hoe duideliker sien ek die Kunste­naar daaragter. En ek besef dat as ek werklik vir God wil ken, ek die wetenskap ernstig moet opneem.

Die afgelope tyd dwaal my ge­dagtes herhaaldelik na nog ’n aanhaling wat aan Aquinas toegeskryf word: “’n Fout oor die skepping sal lei tot ’n fout oor God.” Wanneer ons dít wat wetenskaplikes vir ons leer oor die kosmos nie ernstig opneem nie, maak ons foute oor wie God is. Dan skep ons vir God na ons beeld.

Wanneer ek die vestigiale tekens van evolusionêre ont­wikkeling aan my eie lyf miskyk, tekens soos dié van die palmaris longus en die klein spiertjies wat my ore so effens kan beweeg, verstaan ek nie wat ek bedoel wanneer ek bely “ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde” nie.

Om die skepping ernstig op te neem, is egter nie ’n ligte saak nie. Dit beteken dat die goeie saam met die slegte aanvaar word. Dat dieselfde prosesse van tekto­niese beweging wat lewe op aarde moontlik maak ook dodelike tsoenami’s en aardbewings veroorsaak. Hoe is God betrokke by hierdie prosesse? Hoe is God be­trok­­ke in ’n wêreld waar die fondament van alle mate­rie kans en onsekerheid is, soos Heisenberg uitgewys het?

Hoe meer ek worstel met hierdie vrae, hoe dieper vind ek myself geborge in die misterie van wie God is. Die vraag “hoe is God betrokke?” is vir my belangrik. Die vraag is nie “is God betrokke?” nie. In die woorde van die Psalmskrywer vra ek ook: “Waar sal ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom?” God is ten volle teen­­woordig in sy skepping. Die vraag waarmee ek sal aanhou worstel en waarin ek meer en meer van God ontdek, is: “Hoe?”