Ds. Hanno Ackerman beëindig teen einde Februarie sy bediening as jeugleraar in Stellenberg-gemeente. Stellenberger het met hom gesels oor die groot avontuur wat hy en Liaan, sy vrou, nou gaan aanpak.
Julle verlaat die land en jy gaan terselfdertyd ’n groot loopbaanverandering maak. Vertel ons meer oor die tipe werk wat jy in Amsterdam gaan doen en vir wie jy gaan werk.
Ek gaan vir ’n maatskappy met die naam Accenture werk. Dit is ’n internasionale maatskappy wat spesifiek fokus op bestuurskonsultasie, asook tegnologiese veranderings en ontwikkeling binne besighede en organisasies. Ek gaan as ’n change manager werk. Die kantoor is in Amsterdam, maar die kliënte is oor die hele Europa versprei. Ek sien dus baie uit daarna om tydens my kontak met kliënte ook nuwe plekke te verken. Ek besef dat dit ’n baie groot loopbaanverandering is, maar nadat ek my MBA-graad voltooi het, het ek besef dat ’n mens jou roeping om met mense te werk by verskeie instansies kan uitleef.
Dit is ’n groot stap om jouself te ontwortel en na ’n ander land te verhuis. Wat is tans julle grootste onsekerhede oor die verandering?
Ons grootste uitdaging is die min tyd wat ons het om die verhuisingsproses te behartig. Gelukkig help die maatskappy vir wie ek gaan werk ons met die verhuising en behoort die proses redelik glad te verloop. Ons grootste onsekerheid lê in die nuwe manier waarop ek en my vrou ons onderskeie beroepe moet aanpak. Ons besef dat die verskuiwing van om vir die kerk te werk na ’n korporatiewe werksplek, baie meer tyd van my gaan verg en dit gaan ’n impak op ons verhouding hê. Gelukkig is ons baie aanpasbaar en sien terselfdertyd ook baie uit na die uitdagings wat ons nuwe lewe in Nederland ons gaan bied.
Wat dink jy gaan jy en Liaan die meeste van Suid-Afrika mis?
Liaan gaan verseker haar familie die meeste mis. Sy het in ’n baie hegte familiekring grootgeword en met my verhuising Kaap toe was dit vir my ook baie lekker om deel van so hegte ondersteuningsnetwerk te wees. Ek en Liaan vertrou ook dat ons weer ’n hegte ondersteuningsnetwerk in Nederland sal vestig. Gelukkig vir beide van ons families is ons net ’n deurnagvlug, of ’n video-oproep ver weg, met boonop bykans geen tydverskil nie.
Waarna sien julle baie uit?
Ek en Liaan is baie lief daarvoor om te toer. Ons kan dus nie wag om die hele Europa te ontdek nie. Dit moontlikheid om op ’n trein te spring en met die afklim sommer ’n nuwe taal en kultuur te beleef, is baie opwindend. Persoonlik sien ek ook baie uit na die werk, juis omdat ek met groot organisasies en die proses van verandering gaan werk. Ons het ook ’n paar vriende en vriendinne in Nederland en ons sien daarna uit om as ’n groep Suid-Afrikaners in ’n park te sit en te kuier.
Ons hoor tot die hond gaan saam Nederland toe. Watter ander items gaan ook saam wat vir julle onmisbaar is?
Ons het ons hond, Titus, deur die DBV aangeneem en nou gaan hy ’n Nederlandse hond word. Ou Titus en ons kat is baie lief vir mekaar en altwee gaan saam. Ons voel dat die diere vir ons ’n stuk bekendheid en ’n huislike element in ons nuwe tuiste sal bied. Dit is ongelukkig net ’n ingewikkelde en duur proses om met diere te trek. Ons gaan stap tans byna elke dag met Titus en in Nederland sal ons hom maar langs die fiets laat saamdraf.
’n Ander onmisbare item, wat ook saamgaan Nederland toe, is ons eetkamertafel. Ons het die tafel spesiaal laat maak om in ons huis se eetkamer in te pas en dit is by dié tafel waar ons tydens die grendeltyd gewerk het en waar ons ook saam eet en vriende en familie onthaal. Dit is ’n stukkie van ons lewe in Suid-Afrika wat ons graag saam met ons wil neem. Dan natuurlik ons tuimeldroër omdat ons weet Nederland se weer is onvoorspelbaar. Die res moet nog uitgesorteer word.
Jy was nou sewe jaar in die bediening, waarvan drie en ’n half in Stellenberg was. Watter lesse of ervarings in die bediening het deel van jou lewe geword en jou gevorm?
Ek dink daar is twee lesse wat ek altyd saam met my sal neem:
- Die eerste is dat roeping net ’n woord is. Ek het my lewe lank geworstel oor die feit dat medestudente by die teologiese fakulteit gepraat het asof roeping iets is wat God by hulle bewerkstellig het en daarom wou hulle ’n dominee word. Ek het eers toe ek in die bediening gestaan het, begin besef dat ek geroepe is om dit wie ek is en wie God my gemaak het, te wees en uit te leef. Ek is lief daarvoor om met mense te werk en het ’n passie om mense te begelei in die vorming van nuwe denke en aanpassings. Dit is ook hoe ek weet dat my nuwe loopbaan steeds deel bly van my roeping, want dit is wie ek is.
- Die tweede is dat om te luister is meer belangrik as om te praat. As leraar het ek besef dat mense verwag dat ek sekere goed moet weet en dat ek dan vanuit my kennis moet praat. Ek het egter vinnig geleer dat daar lidmate en ander mense is wat meer as ek weet, mense wat langer en dieper spore getrap het met politieke kwessies, armoede en verandering. Dit help soms om te sê “ek weet nie”, eerder as “ek het die antwoord”.
Dit was werklik vir my ’n voorreg om tydens my bediening in jongmense se lewens ’n rol te speel. Dit was vir my wonderlik om op die rugbyveld en die atletiekbaan te staan en te sien hoe kinders ontwikkel, hoe hulle meer inklusief begin dink en optree en mekaar opbou en saam groei. Dit was ’n voorreg om deel van hierdie prosesse te wees.
Dink jy dat jou ervaring as ’n predikant vir jou in jou nuwe werk van waarde gaan wees?
Verseker, ek glo my ervaring om saam met mense ’n pad te stap, is iets wat vir my van waarde gaan wees elke keer as ek by ’n nuwe projek betrokke raak. Alhoewel die kerkstruktuur kleiner en verskillend is van dié waarin ek myself voortaan gaan bevind, sal die lesse wat ek in verhoudings by die kerk geleer het, steeds van groot waarde in die korporatiewe omgewing wees.
Liaan is ’n onderwyseres in natuurwetenskappe by Curro Hoërskool. Wat beoog sy om in Nederland te doen?
Liaan wil voortgaan met haar loopbaan. Sy is te lief vir haar werk om dit prys te gee. Om vir haar stabiliteit te skep, maar ook om die vryheid te hê om haar nuwe omgewing te verken, wil sy graag betrokke raak by aanlyn onderrig. Sy sal moontlik ook by ’n internasionale skool in Nederland inskakel sodra ons gevestig is.
Het julle al ’n idee by watter kerk in Nederland julle sal inskakel?
Van ons vriende wat in Nederland woon, is reeds by kerkgemeenskappe betrokke. Ons sal waarskynlik dan ook by een van dieselfde kerke inskakel. Ons sal egter steeds Stellenberg se eredienste aanlyn kyk sodat ons kontak met die gemeente behou.
Wat is jou droom vir Stellenberg se jeugbediening op die pad vorentoe?
My droom is dat daar op die huidige energie in die bediening voortgebou sal word en dat daar kontinuïteit sal wees waarbinne kinders/tieners ’n veilige ruimte sal beleef. Ek bid ook dat die bediening sy verantwoordelike teologiese styl sal behou, waarbinne kinders, tieners en jongvolwasse lidmate aangespoor word om die Bybel verantwoordelik te lees. Verder hoop ek dat die aanddienste steeds jong ouers en jong volwassenes wat die kontemporêre styl van kerkwees geniet, sal verwelkom. Laastens bid ek dat jong lidmate belydenis van geloof sal aflê, nie omdat hulle verplig voel nie, maar omdat hulle werklik deel wil wees van ’n gemeenskap van gelowiges.
My droom is dat die jeugbediening sal floreer en dat ons jong lidmate ’n tuiste in Stellenberg-gemeente sal vind.