Dr. André Agenbag stel homself voor . . .

Ek is ’n boorling van Caledon en het my hoërskoolloopbaan in Port Elizabeth afgesluit, waar ek ook twee jaar as dienspligtige deurgebring het. Hierna het ek my teologiese studies aan die Universiteit van Port Elizabeth in 1989 begin en dit in 1995 aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.  Suidkus-gemeente in Amanzimtoti was my eerste gemeente.

Tydens die fase van my lewe, in 1997, is ek en Marnel Meiring in die pragtige Moederkerk op Stellenbosch getroud. Sy is ’n Afrikaansonderwyser en die afgelope klompie jare die hoof van die Afrikaans-departement by Reddam House in Durbanville. In 1999 het ek ’n beroep na Lynnwood-gemeente in Pretoria aangeneem, waar ek verantwoordelik was vir die Engelstalige en multikulturele Andrew Murray-gemeente, wat as ’n wyk by Lynnwood ingelyf was.

In 2000 word ons eersteling, Mieke, gebore. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Stellenberg en het pas haar tweede jaar in Intermediêre Onderwys op Wellington voltooi. Ian, ons middelkind, is tans besig met die laaste stuiptrekkings van sy matriekeksamen aan die Hoërskool Stellenberg.  Hy is in 2004 gebore, dieselfde jaar waarin ek ’n beroep na die New Port Richey United Church of Christ in Florida, VSA, aangeneem het. Aan die einde van daardie jaar word ek terug beroep na ons geliefde Suid-Afrika, waar ek predikant van die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg word en kort na ons terugkoms word ons jongste kind, Jana, gebore.  Sy is nou aan die einde van haar graad 10-jaar aan die Hoërskool Stellenberg.

In 2009 aanvaar ek ’n beroep na Sonstraal-gemeente in Durbanville en in 2017 na Durbanville-moedergemeente.  Vanaf 1 April 2020 is ek Predikant in Sinodale Diens met die opdrag Gemeentebegeleiding op Stellenbosch.  Ons woon steeds binne die grense van Stellenberg-gemeente en ek het dus reeds die voorreg gehad om vir twee termyne die gemeente se konsulent te wees.  As sodanig was ek op ’n manier betrokke by die beroepingsprosesse van verskeie van die leraars die afgelope klompie jare. Weens die feit dat ek nou al vir bykans 11 jaar in dieselfde ring as Stellenberg is, is ek goed bekend met Stellenberg.  Oor die jare heen het ek, soos soveel ander, groot waardering en respek vir hierdie gemeente ontwikkel.  Dit is vir my ’n groot voorreg om as PSD aan Stellenberg-gemeente gekoppel te word en om deel van die span te word. Ek sien uit na die reis saam met julle!

*Dr.  André Agenbag, wat voltyds in diens van die Sinode Wes-Kaapland werk, se versoek om aan Stellenberg-gemeente gekoppel te word, is op die kerkraadsvergadering van 25 November goedgekeur en ’n beroep vir dr. André Agenbag is deur die kerkraad uitgebring.   Die beroep word aan die gemeente bekend gemaak met die oog op approbasie en dr. Agenbag sal dan DV op Sondag 13 Desember in die gemeente bevestig word.  Die beroep het geen koste-implikasie vir die gemeente nie, aangesien hy deur die sinode vergoed word.