Deur: Ds. Why Duvenhage
Ja, inderdaad! Een van die groot hoogtepunte op ons kerkprogram elke jaar, is ons Pinksterbyeenkomste. Dit is ’n tyd van stilword, terwyl ons nadink oor die groot en belangrike rol wat die Heilige Gees in ons eie lewens, en in ons gemeente se bediening speel. Ons ervaar dan opnuut hoe die Gees, wat met Pinkster uitgestort is, ons besiel en saamsnoer om God met krag en entoesiasme te kan dien! Dit is ’n tyd vir geestelike voorraadopname, belewing en herlewing en gebed!
Ons wil graag hierdie jaar, anders as verlede jaar, weer fisies bymekaarkom tydens hierdie geleenthede. Indien die situasie rakende die Covid-19-inperkingmaatreëls verander, sal ons julle betyds daaroor inlig. Die Pinksterdienste sal ook direk uitgesaai word, sodat lidmate ook aanlyn kan inskakel. Ons hoop ook om weer heerlike sop na afloop van die diens te bedien. ’n Kinderpinkster word vanaf 16 tot 20 Mei om 19:00 in die kleinsaal aangebied en die Jeugpinkster sal op dieselfde tyd en datums in die grootsaal aangebied word. Vir diegene wat om praktiese redes verkies om die dienste soggens by te woon, word ’n Oggendpinksterreeks vanaf 17 tot 19 Mei om 10:00 in die kerk aangebied.
Bid asseblief vir Pinkster 2021. Bid dat God, deur sy Heilige Gees, ons op ’n besondere manier sal besoek, sal bedien en van krag voorsien.
Ek het die voorreg om hierdie jaar die Pinksterreeks te lei. Na ’n lang worsteling en gebed, het ek besluit op ’n tema wat sentraal gestaan het in Jesus se bediening, asook in die gebed wat Hy vir ons geleer het. Dis ’n tema wat veral in hierdie uitdagende tyd waarin ons lewe, die versugting van ons hart is:
“LAAT U KONINKRYK KOM”
Ons sal poog om op ’n opwindende reis, binne hierdie ruimte wat Jesus sy koninkryk noem, te gaan. Ons wil dan ook tydens hierdie reis by ’n paar sogenaamde stasies vertoef, wat Hy hoofsaaklik in die bergrede – die manifes of magnus opus van Jesus se leer oor die koninkryk van God – met ons deel.
Ek verstrek kortliks die onderskeie onderwerpe vir die verskillende dienste. (Dit mag dalk nog effens verander, soos ek verder voorberei) Let ook asseblief op die tye:
Aandprogram | Prediker Ds. Why Duvenhage
Laat u koninkryk kom
- Sondagaand 16 Mei 19:00 | ’n Vreemde koninkryk aangekondig. (Matteus 12:4-17)
- Maandagaand 17 Mei 19:00 | Die koninkryk breek aan op ’n vreemde/onwaarskynlike plek, met ’n vreemde/onwaarskynlike koning en medewerkers. (Matteus 4:18-22)
- Dinsdagaand 18 Mei | Die bergrede van Jesus – die manifes van hierdie koninkryk en paradoksale geluk. (Matteus 5:1-12)
- Woensdagaand 19 Mei 19:00 | Vreemdes wat die wêreld beïnvloed! (Matteus 5:13-16)
- Donderdagaand 20 Mei 19:00 | Die vreemde, maar kommervrye lewe wanneer God se koninkryk die prioriteit in jou lewe is. (Matteus 6:25-34)
- Sondagoggend 23 Mei 08:30 Pinksterfees | Die Heilige Gees in die koninkryk en kerk. (Handelinge 1:1-8)
Oggendprogram | Prediker Mike van Deventer
Die Heilige Gees maak nuut. Matteus 5-7 (Die Bergrede)
- Maandag 17 Mei 10:00 | Christene is ánders.
- Dinsdag 18 Mei 10:00 | Christene onderhou die Wet vir ander redes.
- Woensdag 19 Mei 10:00 | Christene se plek in die wêreld.
Kinderpinkster | Brenda Visser
16 tot 20 Mei 19:00 in die kleinsaal